Alternatiewe voerbronne vir herkouers




Wat belangrik is, is watter voedingstowwe die spesifieke produk vir die herkouer kan verskaf. Beesproduksiestelsels is gewoonlik afhanklik van ruvoere as die basis van die voerprogram. Vir optimum produksie moet ruvoere egter met energie en/of proteïen aangevul word om aan die diere se produksiebehoefte te voldoen. Verskillende alternatiewe byprodukte is deesdae teen relatief lae koste beskikbaar wat as alternatiewe voer gebruik kan word.

Diere kan nie die voedingwaarde van ‘n voer benut indien die voer nie ingeneem word nie. Gevolglik is vrywillige voerinname die van uiterste belang. Daar is nie ‘n enkele maatstaf wat die voerinname kan voorspel nie, maar daar is inherente eienskappe van voere wat die vrywillige voerinname beperk.

Die droëmateriaalinname van voer word direk deur die verteerbaarheid van die voer bepaal, wat weer ‘n funksie van ‘n gebalanseerde voer is. Herkouers het ook ‘n behoefte aan effektiewe vesel om oor die lang termyn ‘n gesonde verteringskanaal en –funksie te kan handhaaf. Grane is laag in veselinhoud terwyl weidings, hooie, kuilvoere en sekere byprodukte ‘n hoë veselinhoud het.

Gewoonlik sal ‘n dier voer vreet totdat die rumen gevul is en veselryke voer vul die rumen vining. Om hierdie rede het die veselinhoud van voer ‘n direkte verband met die droëmateriaalinname van voere. Sekere voere mag ook ‘n mineraal- en/of proteïentekort of wanbalans hê wat maklik met voerkonsentrate reggestel kan word.

Rumen anatomie
Om die maksimum vertering van voere en dus produktiwiteit van ‘n produksiestelsel te bereik, is dit kernbelangrik om die die funksionering van die rumen met die ingewikkelde simbiotiese verhouding tussen rumenmikrobes en die herkouer self, te verstaan. Om van alternatiewe voere gebruik te kan maak, is dit nodig om te verstaan hoe die rumenstruktuur en die rumenmikrobepopulasie saamwerk. Herkouers het een maag wat in vier dele verdeel is naamlik die rumen, retikulum, omasum en abomasum. Die rumen en retikulum is waar die meeste vertering of fermentasie en voedingstofabsorpsie plaasvind. Die rumen het self ‘n vloeistoffase, ‘n rumenmat wat op die vloeistof dryf en herkou stimuleer, asook ‘n gasfase wat bo die rumenmat versamel.

Spierpilare in die rumenwand verdeel die rumen in sakke en hierdie spiere is vir die sametrekking of beweging van die rumenwand verantwoordelik. Hierdie sametrekking verseker dat die rumeninhoud met die mikrobes vermeng word en ook dat verdere herkou plaasvind. Die rumenwand is met klein vingeragtige papillae bedek wat die absorpsieoppervlakte seker tot tienvoudig verhoog. Hierdie papillae vermeerder en verkort soos die voersamestelling verander. Net so verander die mikrobesamestelling as die voerinhoud verander. Dit moet in aanmerking geneem word as nuwe/ alternatiewe voere vir diere gegee word.

Rumenmikrobes
Die mikrobepopulasie word deur ‘n kenmerkende ekologiese balans wat in die rumen heers, gereguleer. Die temperatuur word deur die dier se homeotermiese metabolisme gereguleer terwyl die suurgehalte of pH grootliks deur die verwydering van sure deur absorpsie beheer word. Die pH bly relatief konstant te midde daarvan dat gedurig groot hoeveelhede suur in die rumen geproduseer word.

Die osmotiese druk en ionise konsentrasie word stabiel gehou terwyl eindprodukte en afvalprodukte effektief uit die rumenomgewing verwyder word. Al die faktore wat ‘n impak op die mikrobe se omgewing maak, word streng beheer. Die primêre rol van die rumen is om vesel (sellulose en hemisellulose) te verteer. Lignien, die derde komponent van vesel bly onverteerbaar maar speel 'n belangrike rol in die herkouproses.

Rumenbakterieë is hoofsaaklik anaerobies (sonder suurstof), alhoewel ‘n paar spesies fakultatief (beide met en sonder suurstof) is wat die funksie vervul om enige suurstof wat op die oppervlakte van die rumen mag voorkom, te verwyder. Die mikrobepopulasie, wat uit meer as 220 spesies mikobes bestaan, vervul ‘n verskeidenheid van verteringsfunksies.

Daar is amilolitiese mikrobes wat stysels en suikers verteer, sellulolitiese bakterieë wat vesel soos sellulose, hemisellulose en pektien verteer tot dié wat organiese sure en waterstof as energiebron benut. Die bakterieë is hoogs afhanklik van B-vitamines, ammoniak, koolstofdioksied en vlugtige vetsure. Sekere bakterieë produseer produkte wat die gasheerdier benut terwyl ander weer produkte produseer wat ander bakterieë benut. In wese beteken dit dat as ‘n herkouer gevoer word, dan word eintlik eers die mikrobes en dan die dier gevoer.

Proteïene in die rumen word grootliks opgeoffer om ammoniak (NH3) en aminosure in die hande te kry wat vir die opbou van mikrobegroei en reproduksie nodig is. Al die mikrobespesies is bestem om gedurig uit die retikulo-rumen na die omasum gewas te word. Hierdie mikrobes word ‘n hoë-kwaliteit proteïenbron vir die dier, wat as mikrobeproteïen bekend staan.

Slegs ‘n lae persentasie van die voerproteïene, bekend as verbyvloeiproteïene, is vir die diere beskikbaar. Die produksie en benutting van die proteïenfraksies by mikrobes is van koolhidraat (energie) beskikbaarheid afhanklik en is die voedingstofbalans van die voer dus bepalend. Die koolhidrate word in die anaerobiese omgewing na vlugtige vetsure afgebreek. Die belangrikste vetsure is propioonsuur, asynsuur en bottersuur, wat as energiebron vir die dier dien.

Die laer spysverteringskanaal
Die laer spysverteringskanaal kan met die verteringstelsel van die enkelmaagdier vergelyk word en is die plek waar vertering en absorpsie van voedingstowwe vir die dier plaasvind. Vertering vind in die abomasum (ware maag) plaas waar sure en verteringsvloeistowwe met ensieme afgeskei word. Tussen 70% en 90% van die stysel word in die rumen verteer en ongeveer die helfte van die res word in die dunderm verteer.

Verterende voer deur die dermkanaal kom in kontak met die dermwand, waar glukose en aminosure geabsorbeer word. Vesel, wat vertering in die rumen ontsnap, stimuleer die peristaltiese sametrekking en vloei van material deur die dermkanaal. Water, die oorblywinde koolhidrate, minerale, stikstof en vlugtige vetsure word meestal in die dikderm geabsorbeer.

Klassifikasie van alternatiewe voere
Meeste byprodukte wat vir veevoer beskikbaar is, is die produk nadat materiaal vir menslike aanwending verwyder is. Vir hierdie rede verskil die samestelling van byprodukte gewoonlik drasties van die oorspronklike bronmateriaal en is die voedingstowwe ook meer gekonsentreer.

Energieverskaffers
Afvalprodukte wat hoog in suikers, stysel en selfs vetinhoud, is kan as energiebron verskaf word. Voorbeelde van energieryke byprodukte is afval van die graanmaal- (mielies, koring, hawer en gars), lekkergoed-, vrugte- en groenteverwerkings- en suikervervaardigingsbedrywe (melasse).

Proteïenverskaffers
Voer van die oliesaadverwerkingsbedryf is hoofsaaklik proteïenverskaffers. Voorbeelde van proteïenverskaffers is byprodukte van oliesade (sojabone, kanola, katoensaad, grondbone en sonneblom), mielieglutenmeel en ureum. Sekere voere wat laer proteïeninhoud as oliekoekmele (30% tot 50% ruproteïen) en vergelykbare en/of laer energiewaarde as mielies het, word as mediumproteïenvoere geklassifiseer.

Voorbeelde hiervan is koringsemels, lusernmeel en pille, asook brouersgraanprodukte. Multivoedingstofbronne is katoensaad, wat vet vesel en proteïene verskaf asook geroosterde sojabone wat proteïen en vet verskaf. Goeie verbyvloeiproteïen wat vir melkbeeste belangrik is, is mielieglutenmeel, bloedmeel, veremeel, vismeel, karkasmeel (van enkelmaagdieroorsprong) en brouersgis uit die distilleerbedryf.

Veselverskaffers
Byprodukte mag ‘n voordeel vir herkouers inhou as gevolg van die veselinhoud van die produk. ‘n Belangrike oorweging by veselryke produkte is hitteskade wat tot lae voedingswaarde kan lei. Die behandeling van hoë veselprodukte met sure, alkalie en/ of stikstof kan die verteerbaarheid verhoog. Voorbeelde van hierdie voere is oliesaaddoppe (sojaboon, katoensaad), vrugte en groentepulp (druif, sitrus, sagtevrugte, aartappels, wortels), graansaaddoppe (hawer, gars, koring).

Vetverskaffer
Vet word vir herkouers verskaf om die energiekonsentrasie van voer te verhoog wat by hoogproduserende melkbeeste asook voerkraalbeeste vir beter produksie gebruik kan word. Daar is wel ‘n beperking op die maksimum vlakke van vet wat gevoer kan word, waar ‘n oorskryding tot voedingsteurnis, afname in inname en produksieprestasie aanleiding kan gee. Voorbeelde van vetverskaffers is diervetafval (Tallow), spesifieke beskermde vette en olies.

Algemene begrippe en aanbevelings
Die samestelling van alternatiewe voere verskil soms drasties en varieer gedurig. Dit maak die ontleding of bepaling van die voedingswaarde van hierdie voere op een of ander wyse noodsaaklik. Indien hierdie voere gebruik word, moet die proteïen, die totale beskikbare en dus vorm van energie, asook die makromineraalinhoud bekend wees om ‘n gebalanseerde voer saam te stel.

Watter voer ookal vir diere verskaf word, moet dit voedingstofgewys gebalanseerd wees. Dit is nodig om maksimum vertering en daarom inname te kan verwag en daarom aan die dier se behoefte te voldoen en maksimum produksie te verwag.