BFAP | Groei is moontlik vir derde agtereenvolgende jaar

  • 14 April 2022
  • 1068
  • news



So meen die Buro vir Voedsel-en Landboubeleid (BFAP) in hul oorsig oor hoe die bedryf in die laaste kwartaal van 2021 gevaar het. Hul bied in dié verslag ook ʼn vooruitsig vir die 2022-landboujaar.

So beïnvloed oorlog die landbousektor

Brandstof

Een van die grootste onsekerhede is hoe die oorlog tussen die Oekraïne en Rusland gaan ontvou.

Plaaslik het die pryse van brandstof en kunsmis reeds begin styg as gevolg van die krisis. As noodsaaklike insetkoste vir die bedryf sal verdere prysstygings net nog druk op boere se winsmarges plaas.

BFAP verwag daarom dat die tendens van stygende insetkostes waarskynlik volgehou sal word.

Koring, mielies en sonneblomprodukte

Beide die Oekraïne en Rusland is groot uitvoerders van koring, mielies en sonneblomprodukte, en die voortslepende oorlog kan die aanbod van hierdie produkte van daar nadelig raak. Die Oekraïne se lentekoring moet byvoorbeeld in Maart en April geplant word, maar gegewe hoe sake nou staan, is dit onwaarskynlik dat dit besig is om te gebeur.

ʼn Nog groter bekommernis is egter wat met die land se belangrike jaarlikse winterkoringoes gaan gebeur, en of dit moontlik gaan wees om wel koring van die lande te oes. Voeg hierby die realiteit van sanksies teen Rusland wat sy vermoë verlam om onder meer koring, kunsmis en olie aan die res van die wêreld te verskaf, en dit is duidelik dat die aanbod vanuit Rusland waar onder druk is.

Al het Suid-Afrika in 2021 ʼn goeie koringoes gelewer, bly die land ʼn netto invoerder van koring en plantaardige olies, soos sonneblom.

Die stygende graan-en oliesaadpryse, as gevolg van die kleiner aanbod, kan veroorsaak dat plaaslike veeboere meer vir voer sal moet opdok. Laasgenoemde sal uiteindelik ook beteken dat verbruikers meer vir vleis sal moet betaal.

Die anderkant van die muntstuk

Hoër internasionale pryse vir landboukommoditeite soos koring, mielies en sonneblom beteken egter ook ʼn groter inkomste vir plaaslike produsente.

Indien die internasionale op die huidige vlakke vir die grootste deel van 2022 volgehou word, en hulpbronne soos kunsmis geredelik beskikbaar is – al is dit teen ʼn hoër prys, kan die landbou se reële bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir ʼn derde agtereenvolgende jaar groei.

Vanuit ʼn verbruikersoogpunt beteken alles egter duurder kos. Die goeie graanoes wat vir die jaar verwag word, sal ongelukkig nie help om pryse af te bring nie.

Wat prysstygings betref, of dit nou van insetkoste, gewasse of landbouprodukte is, sal volgens die verslag grootliks afhang van hoe lank die oorlog voortduur.