Biosekuriteitsmaatreëls: ʼn dubbeldoor-aanslag

  • 26 February 2021
  • 4664
  • nuus



Eerstens poog dié maatreëls om ʼn geouditeerde naspeurbaarheidstelsel te vestig terwyl dit in die tweede plek die verspreiding van dieresiektes deur lewendehaweveilings probeer beperk.

Hierdie maatreëls, wat gedurende November 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, is gebaseer op internasionale beste praktyke en hou lewendehawe-agente verantwoordbaar aan bestaande wetgewing, reëls en regulasies.

Implementering van biosekuriteitsmaatreëls

Hoewel die biosekuriteitsmaatreëls van toepassing is vanaf die datum waarop dit in die Staatskoerant gepubliseer is, naamlik 13 November 2020, is ʼn bykomende grasietydperk van ses maande aangekondig. Lewendehawe-agente moet dié tyd gebruik om hulself van die reëls te vergewis, infrastruktuur veranderinge of aanpassings te maak, en naspeurbaarheidsprosesse in plek te stel voor of op 30 Junie 2021.

Elke lewendehawe-agent moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • Verpligte registrasie by APAC. Hierdie registrasie is ook nodig vir lewendehawe-agente wat aanlyn- en virtuele veilings aanbied.
  • ʼn Eksterne oudit van veilingsgeriewe en alle biosekuriteitsprosedures moet elke twee jaar deur ʼn onafhanklik ouditeur onderneem word. Die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy, SAMIC, sal dié rol vervul.
  • Die verantwoordelikhede soos uiteengesit in Seksie 11 en 26 van die Dieregesondheidswet moet skriftelik aanvaar word. Hierdie ondertekende dokument sal deel uitmaak van die eksterne ouditproses waarvan die eerste verslag voor of op 31 Desember 2021 gereed moet wees.
  • Elke lewendehawe-agent moet ʼn gekwalifiseerde biosekuriteitspraktisyn aanstel wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad (SAVC) geregistreer moet wees. Dié praktisyn sal verantwoordelik wees vir ʼn biosekuriteitsplan en moet gevolglik toesien dat daar aan alle minimum vereistes voldoen word.

Naspeurbaarheid ʼn belangrike fokus

Die maatreëls vereis dat lewendehawe-agente ʼn betroubare en akkurate biosekuriteit rekordhoudingstelsel by elke veiling moet implementeer. Dié stelsel sal verseker dat transaksies na gelang van ouditbare en opspoorbare prosesse uitgevoer word.

ʼn Voorbeeld van so ʼn stelsel is byvoorbeeld dat ʼn dier wat vir verhandeling bestem is vir minstens 24 uur voor die veiling geregistreer moet wees.

Die volgende dokumente moet die diere vergesel wanneer dit by die veilingsperseel aankom:

  • Oorspronklike en geldige Artikel 6 en 8 dokumente van die dier se eienaar.
  • Afskrifte van die brandmerkregistrasie-sertifikaat.
  • Afskrifte van die eienaar se RSA ID-dokument.
  • ʼn Oorspronklike dieregesondheidsverklaring.
  • Volledige besonderhede van die plek van oorsprong op die Seksie 6 dokument, insluitend: fisiese adres, naam van die plaas, nommer van die landmeter-generaal en gedeeltenommer – soos verklaar en onderteken deur die eienaar  van die dier, sowel as die eienaar of bestuurder van die plek van oorsprong.

As dit kom by die identifikasie van die diere is daar ook sekere maatreëls waaraan daar voldoen moet word, soos onder andere dat die dier voldoende en permanent gemerk moet wees met die eienaar se registrasiemerk. Alvorens ʼn dier by ʼn veiling afgelaai word, moet die betrokke lewendehawe-agent voorts seker maak dat die geregistreerde brandmerk wel aan die eienaar behoort.

Volgens die maatreëls is die volgende handelinge ontoelaatbaar:

  • Die aflaai van ‘n dier by die aankomsarea sonder ʼn geregistreerde brandmerk word verbied.
  • ʼn Vars-gebrandmerkte dier mag nie afgelaai of by die veiling aanvaar word nie.
  • ʼn Dier met nat verfmerke van ʼn vorige veiling mag nie binne 28 dae van die vorige veiling aanvaar word nie.
  • Geen dier mag by die veilingsperseel gemerk of gebrandmerk word nie.

In die geval waar daar agterdog bestaan oor ʼn spesifieke dier, moet die SAPD se Veediefstaleenheid onmiddellik in kennis gestel word. Die kontakbesonderhede en na-ure besonderhede van die betrokke veediefstaleenheid moet by die veilingspersele beskikbaar wees en vertoon word.

* Die volledige stel reëls is beskikbaar by www.apacouncil.org.za.