Brandstofprysskok wag straks op Jan Publiek

  • 22 January 2021
  • 2039
  • nuus



Petrol kan na verwagting met soveel as 80s per liter styg, terwyl diesel sowat 61s per liter duurder gaan word. Die prys van paraffien kan met 63s per liter styg.

Dit volg nadat die Sentrale Energiefonds bekendgemaak het dat daar ʼn onderverhandeling van byna 30s per liter op 95-oktaan-petrol en van 33s op 93-oktaan is. Vir diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% is daar ʼn onderverhandeling van 52s per liter en vir 0,0005%, 51s per liter.

Volgens die Outomobiel-Assosiasie (AA) gaan dié onderverhandeling waarskynlik bydra tot ʼn skerp styging in brandstofpryse. Die assosiasie verduidelik dat hoewel dit tot dusver ʼn goeie maand vir die rand was, die basiese brandstofprys sedert die begin van Desember opgeskiet het. Die oorsaak van die skerp stygings word toegeskryf aan die stygende brandstofpryse op die internasionale mark, gegewe die feit dat olie duurder word. Brent-ruolie, die basis van Suid-Afrikaanse petrol, het die afgelope 30 dae 18,5% duurder geword, vanaf $42,70 per vat tot nagenoeg $50,30.

In terme van die huidige onderverhandeling is duurder brandstof verantwoordelik vir 45s of 49s per liter van onderskeidelik 95- en 93-oktaan-petrol, en vir 67s per liter op diesel.

Tot dusver is dié stygings teengewerk deur die sterker rand, wat die afgelope weke vir die eerste keer in byna nege maande tot onder R15 teenoor die dollar versterk het. Gevolglik sal enige verswakking in die rand oor die volgende paar weke, hoe gering ook al, ʼn verdere styging in brandstofpryse veroorsaak.

Styging volg na goeie brandstofjaar

Die verwagte skerp styging in Januarie volg na ʼn relatiewe goeie jaar vir Suid-Afrikaanse motoriste. Nie net was daar agt maande gedurende 2020 waarin petrol goedkoper geword het nie, maar mense het ook minder rondgery omdat hulle hoofsaaklik van die huis af gewerk het.

Diesel was ook vir sewe maande goedkoper.

* Die AA is van mening egter dat daar tog ʼn rede is vir optimisme synde die wêreldekonomie vinnig weer op dreef sal kom danksy die uitrol van entstowwe teen die virus wat Covid-19 veroorsaak.