Daling in voerpryse oor langer termyn moontlik – ekonoom

  • 15 October 2021
  • 1196
  • nuus



In die Oktober-November-uitgawe van Poultry Bulletin, die tydskrif van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, sê die bekende ekonoom – Mike Schüssler, dat hy optimisties is dat voerpryse oor ʼn effens langer termyn kan daal.

Redes vir stygende voerpryse

Volgens Schüssler is die pryse vir voergrane in dollarwaarde die hoogste in agt jaar en in randwaarde was mielie-en sojaboonpryse in Meimaand die hoogste ooit. Hierdie styging in graanpryse is in die algemeen toegeskryf aan laer produksie in Amerika en die Europese Unie wat veroorsaak is deur veranderende weerpatrone. Die lente het in Noord-Europa ʼn koue begin gehad en toe, na gelang van die land, te veel reën of ʼn droë tydperk. Hierbenewens is die voervoorraadvlakke in Amerika die laagste wat dit in ses jaar was, terwyl daar ook ʼn sterk moontlikheid van ʼn El Niῇa-fase is.

ʼn Ander faktor wat ʼn rol speel is die vervoerkoste verbonde aan die vervoer van droë grootmaatgoedere. Dié koste is die hoogste nog in ʼn dekade weens die voortgesette inperkingsverwante globale voorsieningsontwrigting. In die lig hiervan meen Schüssler dat die plaaslike pryse bloot die internasionale neigings spieël, selfs al is daar plaaslik ʼn groot surplus.

So word produsentepryse beïnvloed

Schüssler verduidelik dat die Amerikaanse dierevoerindeks in randwaarde ongeveer 88% hoër is as ʼn jaar gelede, met die pryse van sojabone en geelmielies wat onderskeidelik 42% en 44% hoër is.

In teenstelling hiermee het ʼn plaaslike vars hoender in Juliemaand minder gekos as ʼn jaar gelede, terwyl bevrore hoenderstukke 14% duurder was. In die lig hiervan sal produsente versigtig moet wees om pryse te verhoog omdat verbruikers pal onder druk is.

Eierpryse wissel tussen 3% en 9% laer as ʼn jaar gelede, maar Schüssler meen dié tendens sal nie lank duur nie omdat produsentemarges onder druk verkeer.

Produsente kan volgens Schüssler daarna uitsien dat graanpryse oor ʼn effens langer termyn sal daal sodra die Amerikaanse voorraadvlak en produksie-uitsette verbeter.