Francois Strydom en Captain America deel die internasionale kollig




Daar is diegene wat albei as superhelde beskou – Strydom in die agri-besigheidswêreld en Evans in die Marvel-heelal, én albei verskyn in die nuutste weergawe van die internasionale Newsweek-tydskrif.

In hierdie uitgawe van die tydskrif, wat alom beskou word as een van die wêreld se mees invloedryke en gerespekteerde mediahandelsmerke, deel Strydom sy mening oor die Suid-Afrikaanse landbousektor asook die Senwes-bedryfsfilosofie as deel van 'n reeks beleggingsontledings oor die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Meer oor die reeks beleggingsontledings

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die BBP van Suid-Afrika gedurende 2020 ʼn inkrimping van 8% beleef. Die fonds verwag dat die ekonomie met tot 3% kan herstel, mits Suid-Afrikaanse maatskappye die Covid-19-wêreld met aangepasde strategieë en teikens betree. Hierdie nuwe ekonomiese tydvak vra ook vir groter veerkragtigheid en die strewe na ʼn balans tussen kort-en langtermyn beplanning.

Die Newsweek-reeks volg in reaksie op president Cyril Ramaphosa se oproep aan die wêreldwye beleggingsgemeenskap om Suid-Afrika as ʼn veilige beleggingsopsie te oorweeg. In die reeks word onderhoude gevolglik met verskeie voorsitters en uitvoerende hoofde van die land se vernaamste maatskappye gevoer.

Senwes as voedselsekerheidsagent

Hiermee 'n uittreksel uit die artikel.

Francois Strydom meen bevorderlike markbeginsels help die groep om ten spyte van uitdagende toestande binne die Suid-Afrikaanse ekonomie steeds te gedy.

Vir Senwes hou Suid-Afrika se innoverende kontantgewasproduksie 'n onontbeerlike voordeel in. “Suid-Afrika is die naasgrootste sitrusprodusent ter wêreld, wat dalk nie sin maak alvorens die vlakke van innovasie in die landboubedryf nie in ag neem word nie. Ons voer baie rooivleis uit. Ons voer avokado's, druiwe, pere, appels, wol en graan uit. As jy na die doeltreffendheidsrantsoene kyk, presteer Suid-Afrikaanse produsente fenomenaal. Produsente en die groter landbousektor is aanpasbaar en streef innovasie op elke vlak na.

In die lig hiervan verteenwoordig innoverende denke dan juis ook die hartklop van Senwes se strategie vir sakeontwikkeling. Dit is veral waar na ʼn moeilike dekade van intense mededinging en konsolidasie.

Die mededingende voordeel van die maatskappy spruit uit 'n strategie wat fokus op die identifisering van toonaangewende besighede in verskeie sektore en die ontwikkeling van samewerkingsooreenkomste ten einde kennis-en vaardigheidsoordrag en tegnologiese ontwikkelingsgeleenthede te ontgin.

Corné Kruger, Senwes Groep Hoof Finansiële Beampte, sê die groep beplan om in die toekoms meer van hierdie vennootskappe na te streef en verwelkom vennote wat belangstel om in die groep self te belê: “Vanuit 'n korporatiewe transaksie-oogpunt is die groep goed geposisioneer, met winsgrense wat baie hoër is as voorheen. Ons bankverhoudinge is uiters goed. Ons het kapitaal uitgesorteer. As 'n adviesmaatskappy 'n bedryfsrolspeler 'n nuwe sakemodel bied, kan ons daarmee konsolideer. Dit is vir ons 'n eerste prioriteit.”



Die Newsweek-voorblad met Chris Evans.