Gerhard Bruwer is Agri SA se Jongboer van die Jaar

  • 26 November 2021
  • 1740
  • nuus



Gemeenskap speel deurslaggewende rol

Volgens Bruwer speel die ondersteuning van sy gemeenskap ʼn groot rol in sy boerdery.

“Ons almal werk saam, kom ons vergeet van die politici en bou ʼn uitstekende land,” het Bruwer in sy toespraak gesê en bygevoeg dat hy hier (by die toekenningsgeleentheid) staan danksy die mense rondom hom wat hom ondersteun.


Gerhard Bruwer van die Genade Boerdery is Agri SA en Toyota se Jongboer van die Jaar 2021. By hom is sy vroue, Liezel. Foto: Gerrit Bezuidenhout.

Agri SA en Toyota New Harvest Produsent van die Jaar

Beverly Joseph van George in die Wes-Kaap het vanjaar met dié titel weggestap.

Joseph boer onder meer met hops en het ʼn groot rol gespeel in die ontwikkeling van nuwe hops-kultivars met die samewerking van die voormalige Suid-Afrikaanse Brouery, nou AB InBev.

Joseph het haar toekenning aan alle vroue in die landbou opgedra. “Ons moet hare op ons tande hê om te floreer in ʼn bedryf waarin mans oorheers,” sê Joseph. Sy het ander vroue aangemoedig om die meeste van geleenthede te maak en hulself voor te berei vir die oomblik wanneer ʼn geleentheid aan die deur klop.


Beverly Joseph en haar man, Furgus. Beverly is Agri SA en Toyota se New Harvest Produsent van die Jaar 2021. Foto: Gerrit Bezuidenhout.

Jongboere lewer ‘n bydrae tot die toekoms van SA landbou

Die voorsitter van die beoordelingspaneel, Pro. Carlu van der Westhuizen, het op sy beurt gesê dat al die finaliste ʼn bydrae lewer tot die toekoms van die landbou in Suid-Afrika. Hy het voorts gesê dat deur hul deelname aan die kompetisie dié finaliste die weg baan vir ontelbare boere in die toekoms.

In terme van hul bydrae tot ekonomiese ontwikkeling en groei, het Van der Westhuizen verduidelik dat die 14 finaliste werk verskaf aan om en by 2 350 mense. Dit is ʼn gemiddeld van 167 mense per kandidaat.

Volgens Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, troon die finaliste nie net uit as suksesvolle produsente nie, maar ook as dinamiese sakelui wat innoverende tegnologie omarm en dus hul toekoms met realisme en vertroue kan benader.

Vir Minnaar lê die waarde van die kompetisie daarin dat dit jaarliks jong sakelui wat die dinamiese aard van die landboubedryf verstaan, identifiseer. “Hierdie is die jong mense en nuwe toetreders tot die landbou met die intelligensie en dinamiese aard wat ons bedryf nodig het. Ek glo dat elkeen van hulle die geleentheid het om nie net suksesvolle produsente te wees nie, maar om waarde vir homself en hul gemeenskappe te skep.”