Gouda maak geskiedenis tydens SA Suiweltoekennings

  • 08 April 2021
  • 1795
  • nuus



Dié aromatiese en intens-gegeurde kaas was een van bykans 900 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat meegeding het om die aandag van 60 beoordelaars. Slegs agt produkte uit die groot aantal inskrywings is met die gesogte Qualité-merk van gehalte vereer, terwyl 106 produkte as nasionale wenners in die onderskeie kampioenskapklasse aangewys is. 

Volgens die suiwelkenner en hoofbeoordelaar, Alan Fourie, is dit elke kaasmaker se droom om as Produk van die Jaar aangewys te word, veral gegewe die omvang van die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings. "Dat hierdie eer vanjaar se wenner van die gesogte titel vir die derde keer te beurt val, is uitsonderlik. Die Woolworths 10-maande volwasse Gouda is voorwaar 'n produk wat die toets van die tye deurstaan het, maar ook 'n bewys van volgehoue gebruik van uitstekende bestanddele. Tegnies en gastronomies is dit so na aan perfek as wat 'n kaasproduk kan kom,” meen Fourie.

Marek Warzywoda, Hoofbestuurder: Lactalis SA, sê sy span is verheug daaroor dat dié besondere Gouda vir 'n derde keer as Produk van die Jaar aangewys is. Dit is boonop ook die vierde keer dat Lactalis SA die algehele toptoekenning in vyf jaar behaal. 

Enigste groot suiwelkompetisie wêreldwyd tydens Covid-19

Die SA Suiwelkampioenskappe word reeds sedert 1834 met groot sukses aangebied. Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is die belangrikste internasionale suiwelbyeenkomste wêreldwyd in 2020 gekanselleer en in 2021 uitgestel as gevolg van die Covid-19-pandemie. 

"Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe is trouens die enigste groot suiwelkampioenskap in die wêreld wat in 2020 en 2021 plaasgevind het," sê Ehlers en verduidelik dat om dit moontlik te maak die beoordelingsproses aangepas is en die toekennings as 'n hibriede geleentheid aangebied is.

Die groot getal inskrywings en buitengewone produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika: "Vanjaar se uitslae getuig van 'n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen individue, klein en medium ondernemings, sowel as nasionale en internasionale maatskappye."

Die SA Suiweltoekennings kan steeds besigtig word by www.cheesesa.co.za/sadairyawards. Vir meer inligting en die volledige uitslae, besoek www.cheesesa.co.za