Herman aangewys as Noordwes se Jongboer van die Jaar




Met dié woorde het Emil Pretorius, markontwikkelingsbestuurder van Santam Landbou, die toon aangegee vir die jaarlikse Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar-geleentheid. Dié prestige geleentheid het vanjaar saamgeval met Agri Noordwes se Jongboer Konferensie wat in samewerking met Senwes aangebied is. Die tema van die dag was “Boer Proaktief #DisJouBeurt”.

Herman Du Prees van Agri Klippan is tydens die geleentheid as die wenner aangewys. Die naaswenners was Fanie Badenhorst van Agri Kameel en Anje Lubbe van Agri Makwassie.

As die wenner sal Du Preez die provinsie later vanjaar in Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig.

Meer oor die wenner

Du Preez boer reeds 19 jaar op die plaas Gruisfontein in die Lichtenburg-omgewing.

Sy boerderyvertakkings bestaan uit 53% braaikuikenproduksie, 15% beesproduksie en 32% saaiproduksie.

Sy toekomsvisie vir sy boerdery is om meer produktief, doeltreffend en volhoubaar te boer deur die gebruik van nuwe tegnologie asook opleiding vir sy werkersmag.

As lid van Agri Klippan en die Lichtenburg Oos-landbouvereniging, is Du Preez aktief betrokke in sy gemeenskap.

Hy is van mening dat jong boere ʼn belangrike rol het om te speel in die ontwikkeling en opleiding van opkomende boere en plaaswerkers. Dit is dan juis hierdie verbintenis tot volhoubaarheid wat lei tot ʼn meer stabiele landbousektor en gepaardgaande voedselsekerheid.

“Jong boere moenie hul rol in die gemeenskap, die provinsie en die land onderskat nie,” sê Du Preez en voeg by dat die tyd aangebreek het vir jong boere om hul stempel op die bedryf af te druk. “Dis ons beurt, so kom ons maak die meeste van elke geleentheid”.

In sy bedankingstoespraak het hy sy dank teenoor sy gesin en sy gemeenskap uitgespreek vir hul ondersteuning en vertroue. Hy het afgesluit deur te sê: "Ek wil net dankie sê aan ons Liewe Vader vir die geleentheid wat Hy vir ons gegee het om elke dag met die skepping te werk."