Kommissie waarsku oor onregverdige prysverhogings




Dié waarskuwing volg nadat die voedselvoorsieningsketting in KwaZulu-Natal en Gauteng deur gewelddadige protesoptogte, plundery en grootskaalse diefstal by winkelsentrums en pakhuise lamgelê is.

Desondanks die tekorte op winkelrakke in hierdie provinsies het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die versekering gegee dat daar genoeg kos in die land is en dat verbruikers nie paniek-kosaankope moet doen nie.

Ingevolge die regulasies vir rampbestuur, wat geld sedert president Cyril Ramaphosa in Maart verlede jaar ʼn nasionale ramptoestand weens die Covid-19-pandemie aangekondig het, word die verskaffers van kos en basiese verbruikersgoedere verbied om hul pryse vir winsbejag te verhoog. Dieselfde geld ook vir noodprodukte en -dienste, mediese en higiëniese produkte en noodskoonmaakprodukte en -dienste.

Hewige strawwe, wat wissel vanaf boetes van R1 miljoen of 10% van ʼn maatskappy se jaarlikse omset of 12 maande tronkstraf, kan opgelê word aan verskaffers wat dié regulasies – soos vervat in artikel 40 en 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008), verontagsaam.

In die lig hiervan moedig die minister verbruikers aan om die mark te monitor en enige onregverdige prysverhogings van goedere en dienste by die Verbruikerskommissie aan te meld.

* Klagtes kan gestuur word na Complaints@thencc.org.za.