Kwik styg straks tot hittegolftoestande

  • 23 October 2020
  • 1917
  • nuus



Die kwik sal na verwagting bo 35°C styg oor die westelike en noordelike binneland, terwyl temperature van tussen 30°C en 35°C in die sentrale binneland verwag kan word. Volgens Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige, sal dié hoë temperature tot in die oostelike binneland, wat Mpumalanga, die Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal insluit, ervaar word.

Nag- of minimum temperature sal voorts in die komende weke nie onder 10°C daal nie, en sommige dele in die warmer westelike en noordelike gebiede kan selfs minimum temperature van meer as 15°C beleef.

Hierdie toestande is, volgens Van der Berg, goeie nuus vir die aanplanting van somergewasse, asook om permanente gewasse soos druiwe se groei en ontwikkeling te stimuleer.

Voorspelde reënvalpatrone

Op die korttermyn meen Van der Berg dat die reënvalvoorspellings verswak en baie min reën word vir bykans die hele Suid-Afrika tot einde Oktober verwag. Toestande vir reën sal egter vanaf November af verbeter, veral oor die sentrale tot oostelike binneland.

Op die langer termyn is die voorspelde droë en warm toestande vir Oktober nie uit pas met voorspellings van gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir die 2020-’21 somerseisoen nie. Van den Berg verduidelik dat die La Nina-toestande dikwels verantwoordelik is vir ʼn ietwat later begin van die somerreënvalseisoen.