Landbou groei te midde van ekonomiese inkrimping

  • 30 October 2020
  • 1885
  • nuus



As die enigste sektor wat sy uitsette kon verhoog, het landbou, bosbou en visserye ʼn totale waardetoevoeging van 11,7% bewerkstellig teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2019. Verskeie faktore het tot hierdie groei bygedra.

Gunstige weerstoestande sal na verwagting graanproduksie ondersteun met ʼn hoër mielie-oes, terwyl die skatting vir koringproduksie ook baie positief is. Dit sal verdere steun tot die veebedryf bied, wat nou goed op dreef is na die uitgerekte droogte en uitbreking van bek-en-klouseer in 2019.

ʼn Handelsurplus is voorts in die eerste helfte van die jaar aangeteken. Hierdie surplus is meegebring deur die verhoogde uitvoer van sitrus, mielies, appels, makadamias en suikerriet. Dié sterk uitvoere sal na verwagting volgehou kan word danksy ʼn hoë eksterne vraag.

Ekonomiese inkrimping

Volgens Mboweni sal die ekonomie vanjaar na verwagting met 7,8% inkrimp. Hierdie skatting gaan egter met groot onsekerheid gepaard, omdat ʼn moontlike tweede golf van die pandemie die land kan dwing om weereens sterker inperkingsmaatreëls in te stel.

Die gekonsolideerde begrotingstekort het van 6,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) in die 2019-’20 boekjaar tot 15,7% gestyg.

Nasionale skuld beloop tans 81,8% (byna R4 biljoen) van die BBP. Dit verteenwoordig ʼn styging van 15,7% in die 2019-’20 boekjaar. Die skuld en rente betaalbaar, sluk gevolglik 21 sent van elke rand van die land se begrotingsinkomste. Dit word verder verwag dat daar vanjaar R312,8 miljard minder belasting ingevorder sal word as wat aanvanklik geprojekteer is.

Voorgestelde herstelplan

Suid-Afrika het, te midde van een van die diepste wêreldwye ekonomiese inkrimpings die afgelope eeu, begin om ʼn ekonomiese herstelplan toe te pas.

Hierdie plan poog om beleggersvertroue te herstel en langtermynhervormings vir hoër volhoubare ekonomiese groei te bevorder. Op die korte duur fokus die herstelplan op die bou van infrastruktuur, die uitbreiding van elektrisiteitsopwekking, die toestand van die digitale spektrum en die ondersteuning van nywerheidsontwikkeling en werkskepping.

Sake wat voorkeur geniet sluit in die finalisering van die uitstaande restitusie-eise en die ondersteuning van boere wie se grond herstel is om produktiwiteit te volhou, werk te verskaf en armoede te bekamp.

Sekere strukturele hervormings – onder die vaandel van Operasie Vulindlela, word deurgevoer soos om handelsversperrings te verminder en die verhoging van streeksintegrasie en handel te bewerkstellig.

Lees die volledige MTBR-toespraak hier