Landbou uitvoere groei tydens derde kwartaal

  • 27 November 2020
  • 2042
  • news



Volgens dié verslag dra verskeie faktore by tot die goeie uitvoersyfers, waaronder: die groot oesskatting, die gesamentlike pogings deur die regering en die privaat sektor wat verseker het dat die landbousektor aktief gebly het tydens die inperkingstydperk én langtermyn inisiatiewe wat daarop gemik is om die uitvoermark te ontwikkel en te vergroot.

Die rekord uitvoere is hoofsaaklik ondersteun deur sitrus, wyn, mielies, neute, sagtevrugte en suikerriet, en dié kommoditeite sal na verwagting ook ʼn positiewe impak op die laaste kwartaal se uitslae hê. Sitrus het die afgelope jaar goed vertoon en dit word voorspel dat ʼn rekord hoeveelheid van 2,5 miljoen ton vanjaar uitgevoer sal word. Dit verteenwoordig ʼn 17% groei op ʼn jaargrondslag. In die geval van mielies, word daar gereken dat die 2020-’21 uitvoerseisoen met 35% sal groei, tot 2,5 miljoen ton.

Die grootste markte, volgens die verslag, vir Suid-Afrikaanse uitvoere in die derde kwartaal was, ander Afrika lande, Asië en die Europese Unie. Uitvoere na dié markte het onderskeidelik 30%, 29% en 29% van die totale uitvoere behels. Die balans van 12% in waarde, is oor die res van die wêreld versprei.

Gegewe dié goeie uitvoersyfers, het Suid-Afrika tydens die derde kwartaal ʼn landbou-handelsoorskot van US $1,7 miljard behaal, wat 35% meer is as gedurende die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.