Landboutoestande gunstig vir Desember

  • 11 December 2020
  • 2160
  • nuus



Dit is die mening van Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige. In ʼn onderhoud met Landbou.com sê Johan dat die vooruitsig vir reën gedurende die eerste 10 dae en die laaste 10 dae van Desember baie goed lyk vir die grootste deel van Suider-Afrika. Gevolglik kan neerslae van 20 mm tot 40 mm vanaf die begin van Desember oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes, Gauteng, die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal die Suid-Kaapse kusgebied en die aangrensende binneland voorkom.

ʼn Frontale stelsel sal rondom 9 en 10 Desember ligte reën oor die Suidwes-Kaap kan meebring. Dié stelsel kan verder uitbrei na die Suid-Kaap waar swaarder neerslae moontlik is.

Volgens Johan dui huidige weerstelsel nie, soos vroeëre langtermynvoorspellings wel gedoen het, dat swaar reën in Desember sal voorkom nie. Voorspellings is ook nie baie gunstig vir ten minste die eerste deel van Desember oor die westelike dele van die land en suidelike dele van Namibië nie.

Neerslae tot op hede

Die voorspelde hoogtepunt van die La Nina-stelsel sal na verwagting in Desember of Januarie bereik word.

Goeie neerslae is egter reeds oor groot gedeeltes van die somergraangebied aangeteken. Van 1 Julie tot einde November het Bothaville in die Vrystaat, 205 mm aangeteken, in vergeleke met die 98 mm in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Ander aangetekende neerslae, sluit in: Hoopstad met 101 mm (teenoor 49 mm in 2019), Vrede met 391 mm (teenoor 156 mm), Middelburg, in Mpumalanga met 246 mm (teenoor 171 mm) en Stella, in Noordwes, met 161 mm (teenoor 45 mm).

Johan meen dat die huidige La Nina-stelsel nog nie die verwagte effek op reënval in die oostelike dele van die land gehad het nie. Voorspellings bly egter baie gunstig en gegewe die minder as verwagte reën tot op hede, kan swaarder neerslae in die tweede deel van die seisoen verwag word.