Lewendehaweprodusente bekommerd oor stygende gewaspryse

  • 09 October 2020
  • 1896
  • nuus



Volgens Wandile, is dit belangrik om op die vooraand van die nuwe somergewasseisoen te let na ontwikkelinge wat voortspruit uit die 2019-’20 seisoen, wat steeds ʼn invloed op landboupraktyke het. Die opvallendste hiervan is die oplewing in markpryse van somergraan en oliegewasse. Wandile verduidelik dat desondanks die feit dat Suid-Afrika sy naasgrootste mielieoes van ongeveer 15,5 miljoen ton (waarvan 6,5 miljoen ton geelmielies en 9 miljoen ton witmielies was) en die derde grootste sojaboon-oes (ongeveer 1,26 miljoen ton) behaal het, die huidige kommoditeitspryse nie die verhoogde produksiegetalle weerspieël nie.

Sojabone verhandel tans vir R8 100 per ton, wat 39% hoër is op ʼn jaargrondslag. Die prys vir wit- en geelmielies is tans onderskeidelik R3 494 per ton en R3 350 per ton, wat ʼn 23% styging op ʼn jaargrondslag verteenwoordig. Alhoewel hierdie pryse goeie nuus is vir graan- en sojaprodusente, is dit rede vir kommer vir lewendehaweprodusente wat die grootste verbruikers van mielies en sojabone, as deel van voerbestanddele, is.

Rede vir prysstygings

Wandile verduidelik dat dié prystoename onder meer veroorsaak word deur die swakker plaaslike geldeenheid en die toenemende vraag uit Sjina en ander Asiatiese markte.

Sjina is besig om sy varkkudde, die grootste ter wêreld, te herbou na die uitbreek van Afrika-varkpes (AVP) in 2019. Hierdie proses het aanleiding gegee tot ʼn noemenswaardige toename in die wêreldwye invoer van sojabone.

Suid-Afrika, is ʼn netto invoerder van sojaboonmeel (ʼn byproduk van sojabone wat in veevoer gebruik word), en voer jaarliks ongeveer ʼn halfmiljoen ton, hoofsaaklik uit Argentinië, in. Wandile verduidelik dat die verhoogde pryse tesame met die swakker plaaslike geldeenheid verder bydra tot die verhoogde koste vir die vee- en pluimveebedryf.

In die geval van mielies is SA 'n netto-uitvoerder, wat beteken dat wêreldwye markontwikkelings 'n kleiner effek het as in die geval van sojabone. In September was die totale mielie-uitvoer op 1,46 miljoen ton gereken, wat 54% van die seisoenale uitvoervoorspelling van 2,7 miljoen ton verteenwoordig. Die toenemende vraag na mielies van regoor die wêreld, tesame met die swakker plaaslike geldeenheid, maak uitvoer winsgewend. Voeg hierby die hoër wêreldwye mieliepryse, en dit word duidelik waarom die plaaslike mieliepryse ook toeneem.

Aangesien hierdie dinamika waarskynlik nie op die korttermyn sal verander nie, kan die pryse van sojabone en mielies nog vir 'n geruime tyd hoog bly. Dit sal lei tot hoër koste vir die gebruikers van graan en oliesade, veral die vee- en pluimveebedryf.