Maak seker jy besoek die 2017 Noord-Vrystaat SAVM Klub se Boeredag




Van die beste genetika is by die klub gesetel en die veiling het oor tyd sy eie unieke identiteit afgedruk met top kwaliteit ramme wat jaarliks gedurende die vierde Woensdag van Augustus aangebied word met die veilingskomitee onder leiding van Hennie Blomerus, Wouter du Plooy en Bennie Pienaar wat toesien dat die kwaliteit gehandhaaf word.
 
Vanjaar begin die program reeds om 07:30 met registrasies en daar is ook sprekers soos Hendrik van Pletzen wat gesels oor die invloed op genetiese vooruitgang met die gebruik van top kwaliteit ramme en die ekonomie, asook Dr Faffa Malan wat huidige probleemsiektes gaan aanspreek. Dan vind die jaarlikse klubveiling plaas waar 32 jaar se beproefde genetika beskikbaar is. Dit sal gevolg word deur ’n heerlike skaapbraai.
 
Almal is welkom en die klub nooi veral dames wat tot boerdery toetree, jongboer studiegroepe, boereverenigings by skole, kommersiële telers en stoettelers van alle skaaprasse uit.
 
Die klub het ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1984 gestig. Klubvoorsitter, Hennie Blomerus noem dat die eerste veiling in Welkom plaasgevind. Die veiling het later na Kroonstad skougronde verskuif, en word tans by Kroon-Boma aangebied.
 
Vanaf 2008 bied die klub ‘n skaapinligtingsdag in samewerking met Afrikaanse Hoërskool (Rooiskool) se Junior Boerevereniging aan en vanjaar sal dit vir die eerste keer op dieselfde dag as die veiling by Kroon-Boma aangebied word.
 
Die Inligtingskomitee begroot vanjaar vir ‘n totaal van 500 besoekers nadat 367 besoekers en 26 uitstallers die Boeredag in 2016 bygewoon het. Registreer asseblief voor of op 16 Augustus 2017 by die sekretaresse, Neline Pienaar, deur haar te kontak by 082 440 4492 of te e-pos by bennieneline@eleo.co.za. Koste beloop slegs R100 per persoon en bespreking is noodsaaklik.