Melktertpannekoek met kersiesous

  • 10 January 2020
  • 2619
  • nuus



BESTANDDELE
Kersiesous
500 ml ontpitte kersies
250 ml suiker
250 ml water
15 ml vlapoeier
Koue water
1 ml vanieljegeursel

Melktertvulsel
1 liter melk
30 ml botter
1 kaneelstokkie
75 ml mielieblom
75 ml koekmeel
125 ml koue melk
3 ekstra groot eiers
200 ml suiker
5 ml vanieljegeursel
12-16 vars gebakte pannekoeke

METODE
Kersiesous:
1. Verhit die kersies, suiker en water stadig saam tot kookpunt. Prut vir ongeveer 20 minute, maar moenie die kersies te lank kook sodat dit pap word nie.

2. Maak die vlapoeier met ’n bietjie koue water aan en roer dit by die sous. Prut tot verdik en deurgekook. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by.

Melktertvulsel:
1. Verhit die melk, botter en kaneelstokkie in ’n kastrol tot kookpunt. Meng die mielieblom, meel en koue melk saam tot glad.

2. Voeg ’n bietjie van die warm melkmengsel by die mielieblommengsel en roer tot glad. Giet dan alles terug in die kastrol by die res van die melk en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt.

3. Prut vir 1 minuut, terwyl aanhoudend geroer word. Klits die eiers en suiker saam en voeg dit in ’n dun straaltjie by die melktertpap terwyl aanhoudend geroer word. Prut, terwyl jy roer, tot verdik en gaar.

4. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by. Vul die pannekoek met die melktertvulsel en vou dit toe. Skep ‘n ruim lepel van die kersiesous oor en sit voor.

Lewer 6-8 porsies.