Nasionale Waterwet | watergebruiksregte kan oorgedra word




Dit is aldus die appèlhofuitspraak soos gelewer deur regter Clive Plasket, namens ʼn meerderheid van die appèlhof-regters, met ʼn minderheidsuitspraak deur regter Tati Makgoka.

Die aanloop van dié appèlsaak het in Januarie 2018 ʼn aanvang geneem toe die departement van water en sanitasie dit in ʼn omsendbrief gestel het dat watergebruiksregte nie oorgedra mag word nie. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die hooggeregshof in Pretoria drie aansoeke om ʼn verklarende bevel oor die korrektheid van die omsendbrief van die Lötter-en Wiid-boerderye, asook die Suid-Afrikaanse watergebruikersvereniging ontvang het. Dié saak is egter van die hand gewys.

Gedurende hierdie tyd het Agri SA die regskoste in die Lötter-en Widd-sake met fondse uit sy Vrywillige Waterfonds gedek.

ʼn Waterskeidingsaak

Volgens Ari SA se Janse Rabie, hoof van die afdeling vir natuurlike hulpbronne, is die onlangse uitspraak uiters belangrik, veral vanuit ʼn regsoogpunt.

“Hierdie uitspraak deur die appèlhof dien as regverdiging vir die posisie wat Agri SA en ander ingeneem het oor die korrekte vertolking van die Suid-Afrikaanse wet,” meen Rabie.

Hy verduidelik voorts dat die vermoë om waterregte wettig ingevolge die bepalings van artikel 25 van die Nasionale Waterwet oor te dra, veral vir die besproeiingsektor noodsaaklik is.