Nat, natter, Maart!

  • 19 February 2021
  • 2003
  • nuus



Volgens Johan se jongste voorspelling wat op Landbou.com verskyn het, is die huidige warm en sonnige weerstoestande wat oor die somerreënstreek voorkom slegs tydelik. Hy verduidelik dat verhoogde tropiese laagdruk-aktiwiteite tans oor die Indiese Oseaan voorkom en dat van dié stelsels die Mosambiekkanaal en die kusgebiede van Mosambiek teen die naweek sal bereik. Gevolglik kan swaar neerslae (met gepaardgaande oorstromings) in die Noord-oostelike dele van die land in gebiede soos KwaZulu-Natal en die Laeveld voorkom.

Die stelsel kan teen volgende week weswaarts beweeg en swaar reën oor Mpumalanga, Gauteng, Limpopo, die sentrale tot oostelike dele van die Vrystaat asook die oostelike dele van Noordwes veroorsaak.

Weermodelle dui voorts dat reën in die tweede week van Maart oor dele van die Noord-Kaap kan voorkom, terwyl die tweede helfte van Maart ook belowend lyk vir reën in die gebied.

Invloed van ‘n La Nina-stelsel

Volgens Johan moet daar na vorige sterk La Nina-stelsels gekyk word ten einde voorspellings aan die hand van die huidige stelsel te maak.

Van 24 tot 30 Maart 1976 het swaar reën baie erge oorstromings in die Benede-Oranjerivier tot gevolg gehad, terwyl van die ergste oorstromings ooit in die sentrale binneland en KwaZulu-Natal gedurende Maart 1988 voorgekom het.

In die 2010-’11 seisoen het swaar reën vanaf Maart tot en met die eerste week van Junie geval.

Produksietoestande

Uit ʼn landbouproduksie-oogpunt lyk toestande oor die algemeen goed, en die warm en sonnige toestande wat die afgelope tyd voorgekom het, het volgens Johan baie gehelp om die potensiaal van die somergraanoes te verhoog.

Johan maan produsente dat een van die groot gevare tydens La Nina-toestande die voorkoms van laat neerslae is. As reën steeds in Mei voorkom sal dit ‘n besliste impak hê op die oes van grond-, soja- en droëbone. “Dit is daarom raadsaam om betyds reëlings te tref om dié oesproses so vinnig moontlik af te handel,” sê Johan.