Nog neerslae vir Januarie en Februarie voorspel




Dié langtermyn-voorspelling is veral gunstig vir die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, die noordelike dele van die Oos-Kaap, westelike dele van Limpopo en Gauteng.

Van den Berg verduidelik dat die La Nina-stelsel wat sedert middel verlede jaar ontwikkel, nou na verwagting volwassenheid bereik. Die volwassewording skep gunstige toestande vir verdere reënval vir veral die somerreëngebied tot in die komende herfsseisoen.

Mediumtermynvoorspelling

Op die kort tot mediumtermyn verbeter die kans op enkele tot verspreide buie oor bykans die hele land, met die uitsondering van die westelike dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, asook westelike binneland van die Oos-Kaap. Min of geen reën word oor dié gebiede tot ongeveer 21 Januarie verwag nie.

Swaar reën word vanaf 22 tot 25 Januarie oor die grootste deel van die land verwag, met die potensiaal om oorstromings te veroorsaak gegewe die huidige nat toestande, versadigde grond en vol damme.

Aanbevelings

Van den Berg rig die volgende aanbevelings aan produsente met die oog op nog reën wat in Januarie verwag word:

  • Wees versigtig vir laagliggende gebiede en ontruim nie-noodsaaklike werktuie, asook alle vee wat in riviergebiede loop. Dit geld vir die grootste deel van die somerreëngebied.
  • Minder reën word middel Januarie (13 tot 19 Januarie) verwag en dan moet graanboere alles in hul vermoë doen om bobemesting toe te dien en onkruide te bekamp in landerye wat begaanbaar is. Lusernboere wat wil hooi maak, moet dié tydperk daarvoor gebruik, voor die swaar reën teen 22 Januarie begin voorkom.
* Die volledige artikel het in Landbou.com verskyn.