Oesskattingskomitee maak nuutste voorspellings bekend

  • 15 October 2021
  • 1565
  • nuus



Somergewasproduksie

Volgens dié opdatering is die somergewasgetalle met 1% afwaarts hersien na ʼn verwagte mielieproduksieskatting van 16,2 miljoen ton. Desondanks die afwaartse aanpassing sal die oes steeds die tweede grootste mielie-oes in die geskiedenis wees.

Die produksieskatting van die ander gewasse het onveranderd gebly, met sorghum en droëbone wat onderskeidelik met 3% en 2% opwaarts aangepas is.

Wintergewasproduksie

Wat die wintergewasse betref, was die September-voorspelling die tweede produksieskatting van die 2021-2022 seisoen. Minimale veranderinge is aangeteken met slegs koring-en hawerproduksieskattings wat met onderskeidelik 0,5% en 4,0% opwaarts aangepas is tot 2, 09 miljoen ton en 82 223 ton.

Die produksieskatting vir koring stem min of meer ooreen met die vorige seisoen se oes van 2,12 miljoen ton, terwyl die verwagte haweroes die grootste oes op rekord gaan wees. Die Wes-Kaap, wat meer as twee derdes van die land se wintergewasse verbou, het sedert die begin van die seisoen gunstige reënval gekry wat die plant-aktiwiteit en die groeitoestande bevoordeel.

Die enigste wintergraan wat 'n afname in aanplanting ondervind het, is gars. Volgens die oesskatting besnoei produsente skerp met tot 33% op 'n jaargrondslag (of tot 94 730 hektaar). Die produksiesyfers is ook laer, in ooreenstemming met die afname in aanplantings.

Hierdie afname is deels te wyte aan die laer vraag na aanleiding van die tydelike verbod op die verkoop van alkohol wat met verskillende tussenposes sedert die pandemie voorgekom het. Die vorige seisoen se groot oes speel egter ook ʼn rol in die afname.

Volgens die produksieskattings kan kanola ook nuwe rekordvlakke van 195 000 ton aanteken. Dit verteenwoordig ʼn 18% toename op ʼn jaargrondslag. Koringproduksie word op 2,09 miljoen ton gestel wat 1% laer is as vorige seisoen. Hierdie minimale daling word ondersteun deur ʼn afname in die oppervlakte-aanplantings en laer opbrengste in die Vrystaat.