Ontwrigtinge demp groei in granaatbedryf

  • 26 March 2021
  • 1895
  • nuus



Uitdagings soos personeeltekorte by plaaslike hawens en die daling in internasionale handel het ʼn beduidende impak op die bedryf gehad. Hierdie ontwrigtinge het nie net aanleiding gegee tot ʼn 6% daling in uitvoere nie, maar het ook tot gevolg dat groot volumes granate nou in pakhuise lê en wag om verskeep te word.

Volgens Carnel Geddes, voorsitter van die Granaatprodusentevereniging van Suid-Afrika (Pomosa), het Covid-19 veroorsaak dat Amerikaners se aanlyn aankope vanuit China toegeneem het, terwyl ander handel drasties afgeneem het. Hierdie tendens het veroorsaak dat die skeepvaartbedryf sy roetevoorkeure verander het en minder skepe het gevolglik by Suid-Afrikaanse hawens aangedoen. Hiermee saam het die grendelstaat veroorsaak dat Kaapstad se hawebedrywighede baie afgeneem het en daar ander planne beraam moes word om vrugte te verskeep. Hierdie ontwrigting het verskepingspryse die hoogte in laat skiet en volgens Geddes word vrugteprodusente gedwing om hierdie pryse te aanvaar vanweë die kort raklewe van hulle produkte.

“Groot volumes van hierdie jaar se graanaatoes lê nog in koelkamers en pakhuise en dit moet onder meer hanteer en geskuif word om vakante bergplekke te vind, wat nie net die uitvoerproses verlangsaam nie, maar ook die kosteketting duurder maak,” sê Geddes.

So lyk SA se granaatbedryf

  • Granate word as volg verbou: Vrystaat (1%), Oos-Kaap (2%), Noord-Kaap (7%), Limpopo (19%) en die Wes-Kaap (71%).
  • Gedurende 2020 is 1032 hektaar met granate beplant, waarvan die meeste aanplantings in Limpopo (195 hektaar) en die Bergrivierstreek (193 hektaar) voorgekom het.
  • Granaatkultivars sluit in Wonderful, Kessari, Emek, Angel Red, Hershkovitz, Arakta, Garnet en Acco.
  • Die gewildste uitvoer-kultivar gedurende 2020 was Wonderful (1 161 449 kratte), gevolg deur Acco (202 501 kratte) en Hershkovitz (190 542 kratte).
  • Die grootste groei in terme van uitvoere het in 2018, na die vyf jaar droogte, voorgekom en uitvoere het met 44% gestyg vanaf 1 167 821 kratte na 1 676 160 kratte.
  • SA voer granate uit na die Midde-Ooste, Europa, die Verenigde Koninkryk, Asië, Rusland en ander Afrika lande.