Projek Popeye spreek tot vernuftige waardekettings




Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) ʼn projek van stapel gestuur het om afvalwater, wat tydens die brouproses ontstaan, as besproeiing vir spinasietuine in die Oos-Kaap te gebruik.

Bierwaardeketting dra by tot vernuftige landbouaktiwiteite

Die sukses van dié projek, gepas genoem Projek Popeye, het daartoe aanleiding gegee dat SAB se Ibhayi-brouery nou, in samewerking met die Wêreld-Natuurfonds vir Suid-Afrika, ʼn kommersiële drupbesproeiingstelsel gaan ontwikkel om spinasietuine in verhoogde beddings op ʼn volhoubare wyse te laat groei.

Dié stelsel sal na verwagting 2 000m2 groot wees en sal die eerste volhoubare biologiese behandelingstelsel vir ʼn brouery in Afrika wees. Volgens verskeie kenners het die stelsel voorts die potensiaal om Suid-Afrika se beperkte waterhulpbronne beter te benut en in die proses werkskepping te bevorder.

In praktyk beteken dit dat die afvalwater, afkomstig van die brouproses, in die water-en voedingsbehoeftes van die gewasse sal voorsien sonder bykomende kunsmis of water. ʼn Verdere pluspunt is dat die spinasiebeddings net sowat 10% van die afvalwater waarmee dit besproei word gebruik, wat beteken dat dit die oorblywende 90% weer beskikbaar stel vir hergebruik in die brouery. Laasgenoemde word moontlik gemaak omdat die spinasie die voedingskonsentrasie van die afvalbierwater verminder, wat veroorsaak dat die gehalte van die oorblywende water verbeter word.

Volgens Josh Hammann, direkteur van landbou-ontwikkeling by SAB, sal dié afvalwater aan TMWS voorsien word om spinasie te kweek wat dan aan plaaslike gemeenskappe verkoop sal word. Op hierdie manier word die kwessie van voedselsekerheid proaktief aangespreek. SAB sal ook die nodige kapitaal in TMWS belê om die bedrywighede op die been te bring.