SA ekonomie toon groei tydens tweede kwartaal

  • 10 September 2021
  • 1953
  • nuus



Dié groei is beter as wat verwag is, nadat ekonome groei van tussen -1% en 1% voorspel het.

Jaargroei, wat die groei in produksie op die bruto binnelandse produk (BBP) meet, is op 19,3% vasgestel in die tweede kwartaal teenoor dieselfde kwartaal van 2020, toe die land op vlak 5 van die inperkings op die vooraand van die eerste vlaag van die koronavirus was. In die eerste ses maande van die jaar het die BBP met 7,5% gegroei.

So vaar plaaslike bedrywe

Ses uit die tien bedrywe wat deur SSA gemeet word, het groei getoon gedurende die tweede kwartaal.

Só het al tien die plaaslike bedrywe gevaar:

  • Vervoer en kommunikasie: 6,9%
  • Landbou: 6,2%
  • Persoonlike dienste: 2,5%
  • Handel, spyseniering en verblyf: 2,2%
  • Mynbou: 1,9%
  • Nutsdienste: 0,7%
  • Finansiële en sakedienste: -0,4%
  • Vervaardiging: -0,8%
  • Staatsdiens: -0,9%
  • Konstruksie: -1,4%

Impak van die landbousektor

In ʼn verklaring wat deur Agri SA uitgereik is na afloop van die bekendmaking van dié groeisyfers, verduidelik Kulani Siweya (hoof van Agri SA se ekonomie-afdeling) en Nicol Jansen (voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie) dat die styging in landbou-BBP ʼn bydrae van 0,2% tot die groei in BBP verteenwoordig.

Hierdie styging kan hoofsaaklik aan ʼn toename in akkerbou-, tuinbou- en diereproduksie toegeskryf word en was volgens Siweya te wagte aangesien daar gewoonlik ʼn toename in landboubedrywighede gedurende die tweede kwartaal van die jaar is.

“’n Groot deel van die landbou-BBP is gekonsentreer in akkerbou. Wat somergewasse betref, skop die oesseisoen gewoonlik in Mei af (April in die geval van vroeë oeste). Hierna volg aanplanting ná afloop van die eerste reëns van die seisoen, normaalweg vanaf Oktober (van die vorige jaar) tot Januarie die volgende jaar,” sê Siweya en voeg by dat aanplantings hoofsaaklik in die tweede kwartaal geskied.

Hoewel die oes nie besonder groot is in vergelyking met die someroes nie, word wintergewasse gewoonlik in die derde en vierde kwartaal van die jaar geoes. Hierdie syfers sal later vanjaar bekend gemaak word.

“Hierdie seisoenale faktore is onderliggend aan die toename in BBP vir die sektor,” meen Jansen, en voeg by dat die syfers vir die tweede kwartaal veral toegeskryf kan word aan die positiewe oesskattings vir die jaar. Sy voeg by dat diereproduksie, wat negatief geraak is hoofsaaklik weens droogtetoestande in sommige dele van die land en siektes in ander dele, het begin herstel namate kuddes herbou word.

Jansen sê verdat dat indien gunstige weerspatrone en die afwesigheid van siektes voortduur, daar ook ʼn positiewe uitkoms in die komende kwartale verwag kan word.