Sasria kondig nuwe graderingskategorie vir landbouvoertuie aan

  • 08 April 2022
  • 1172
  • nuus



Volgens die nuwe graderingskategorie word ʼn landbouvoertuig gedefinieer as enige selfaangedrewe of gesleepte voertuig wat gebruik word in die uitvoer van landbou-en boerderybedrywighede (insluitend die instandhouding en versorging van die grond en van privaat-of toegangspaaie waarvoor die versekerde hulself verantwoordelik hou) wat, ten tyde van ʼn eis, nie in stryd met die bepalings van die Padverkeerswet of enige vervanging daarvan gebruik word nie.

Landbouvoertuie is voorheen in die M8-swaarvoertuigkategorie ingedeel.

Luidens ʼn verklaring deur Graan SA volg dié aankondiging na die wydverspreide skade wat in die burgerlike onluste in grootliks KwaZulu-Natal en Gauteng in Julie 2021 aangerig is. Sasria het na die onluste voorgestel dat sy premies op voertuie in die M8-kategorie met 1 736% verhoog moet word, of van R326, 78 tot R6 000, 98 vir ʼn versekerde bedrag van R2 miljoen. In die tyd was landbouvoertuie soos trekkers, stropers, spuite, planters en swaarvervoervragmotors wat op plase gebruik word, ook in die M8-kategorie vervat.

Graan SA het tesame met ander landboubelanghebbendes met Sasria onderhandel om nie landboutoerusting onder dieselfde kam as vragmotors te skeer nie. Die gevolg was dat Sasria ingestem het om landbouvoertuie as spesiale landboutoerusting te verklaar met ʼn premie wat heelwat laer is as waaronder vragmotors verseker word. Die nuwe tarief is vasgestel op 0, 006% effektief 1 Augustus.

Volgens Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, is die organisasie verheug oor Sasria se aankondiging, aangesien die meeste landboutoerusting en -voertuie selde die plaas verlaat. ʼn Verdere voordeel is dat Sasria ingestem het om die nuwe koers effektief terug te dateer tot 1 Februarie 2022 vir nuwe of hernude Sasria-polisse.