Senwes Equipment: 2020 Visie




Aan die begin van 2020, het Senwes Equipment 'n visie vir die jaar gehad wat aansienlik anders gelyk het as die huidige realiteit. Die pandemie het die wyse waarop bemarkers besigheid doen, beïnvloed. Die persoonlike element van verkope het verdwyn en die Senwes Equipment span moes wyses vind waarop hulle kon voortgaan met hul besigheid sonder om gesondheid of inkomste in te boet.

Dit was beslis 'n moeilike uitdaging, maar Senwes Equipment het die uitdaging op 'n bewonderenswaardige wyse aanvaar. Planne vir die loodsing van die John Deere 8R-reeks trekker was onderweg, wat by die Nampo Oesdag 2020 sou plaasvind. Nampo is egter onbepaald uitgestel en die Senwes Equipment span moes vinnig digitale bemarkingsveldtogte inspan vir die Suid-Afrikaanse loodsing van hierdie fantastiese trekker.

Senwes Equipment Uitvoerende Bestuurder, Ferdie Pieterse, het die volgende opmerkings gemaak oor die vinnige aanpassing in dié onsekere tye: “Ons moes migreer na die optimalisering van ons gebruik van gedrukte media ten einde die boodskap aan ons klante oorgedra te kry. Persoonlike kommunikasie was taboe en ons moes wyses vind waarop ons steeds met ons klante kon kommunikeer en hulle kon bedien deur middel van digitale en gedrukte media. Alhoewel dinge nou beslis anders is, beteken dit nie noodwendig dat dit slegter is nie. Besigheid gaan aan soos normaal, maar sonder enige gebeurtenisses soos Nampo."

Die Senwes Gebruikte Toerusting veiling sou in Kroonstad plaasvind in April 2020. Die beperkings wat op byeenkomste geplaas is, was inderdaad 'n uitdaging, maar besigheid moes aangaan. Klante is toegelaat om na die werkswinkels te kom en vir die eerste keer ooit, is toerusting op 'n eerste kom, eerste bedien-basis verkoop.

Ferdie sê dat Senwes Equipment sal voortgaan om veranderinge aan te bring, op 'n konserwatiewe basis en met inagneming van die veranderinge wat die pandemie gebring het. Hy sê dat daar baie lesse te leer is uit hierdie krisis en dit is belangrik om deeglik daarvan kennis te neem. "Een van die grootste lesse wat ons geleer het, is hoe handig dit is om tegnologie as deel van bemarking in besigheid in te span." Hy verseker Senwes Equipment se klante dat die Senwes Equipment span altyd beskikbaar en gereed sal wees om hulle regdeur die oesseisoen van diens te wees.

Een van die dinge waarna hy die meeste uitsien na hierdie krisis verby is, is om die Senwes Equipment klante persoonlik te besoek, hulle in die oë te kyk en hand te skud.