Suid-Afrikaanse gemmermark is witwarm

  • 05 February 2021
  • 1710
  • nuus



Die plaaslike gemmerseisoen begin in alle erns in Februarie, maar gemmerkwekers in die Laeveld is reeds besig om jong gemmer te oes ten einde die meeste van die gunstige marktoestande te maak. Hierdie jong gemmer moet egter vinnig verbruik word.

Volgens FreshPlaza.com kos ʼn kilogram gemmer tans R300 of 16,6 euros per kilogram, en die vooruitsig is dat dié prys tot R500 of 28 euro per kilogram sal toeneem.

Gunstige langtermyn markvooruitsig

Die uitvoerende hoof van die RSA Group, ʼn bemarkingsagentskap vir varsprodukte, Jaco Oosthuizen is van mening dat die markvooruitsig vir gemmer reeds vir die afgelope vyf jaar baie gunstig was. “Gemmerpryse is al ʼn geruime tyd hoog en die prys van gemmer is oor die algemeen hoër as dié van enige ander groente. Om die waarheid te sê, gemmer was in 2020 die beste presterende groente op die Suid-Afrikaanse mark.”

Hy voorspel dat die vraag na gemmer nie sommer gou sal kwyn nie, maar dat die volume gemmer wat gelewer word meer sal word. Laasgenoemde is die gevolg van meer produsente wat tot dié produksiemark bydra.

* Navorsing toon dat die antibakteriële eienskappe van gemmer baie goed is. Dié eienskap maak gemmer doeltreffend vir die behandeling van pyn en koors. In die geval van respiratoriese siektes, kan vars gemmer ook voordelig wees. Dit is egter belangrik om daarop te let dat droë gemmer nie dieselfde antivirale eienskappe as vars gemmer het nie.