Suikermeesterplan fokus op groei

  • 27 November 2020
  • 2207
  • news



Dié meesterplan is op 16 November 2020 gesamentlik deur me. Thoko Didiza, minster van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en, mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging onderteken. Volgens die plan het lede van die suikerwaardeketting, wat onder meer nywerheidsverbruikers, verwerkers en kleinhandelaars insluit, hulself tot ʼn drie jaar lange minimumverbruiksooreenkoms verbind wat behels dat 80% van hul suiker in 2021 vanaf plaaslike produsente en meulens sal kom. In 2023 sal dit tot 95% aangepas word.

Meer oor die meesterplan

Die doel van die strategie is om die plaaslike suikerwaardeketting verder te integreer en vertikale vennootskappe te bewerkstellig ten einde langdurigheid te help verseker.

Deur die plaaslike bedryf te versterk, poog die meesterplan voorts om die internasionale mededingendheid van Suid-Afrikaanse suikerriet te verbeter ten einde aktief by te dra tot die ekonomiese en sosiale ontwikkeling van die land.

Die meesterplan sal in drie fases geïmplementeer word, waarvan die eerste op die stabilisering en herstrukturering van die bedryf sal fokus. Intervensies sluit onder meer in:

  • Die opheffing van kleinskaalse produsente
  • Ontwikkeling van agri-ekonomiese opleidingsprogramme
  • Die beskikbaarstelling van siektebestande variëteite

ʼn Bedryf onder groot druk

Die plaaslike suikerbedryf gaan reeds vir etlike jare gebuk onder uitdagings soos voortslepende droogtes, toenemende goedkoper invoere, verhoogde suikerbelasting, internasionale prysonstabiliteit asook ʼn afname in die verbruik van suiker.

Ten einde kop bo water te hou, het verskeie produsente hul boerderye gediversifiseer of in welke gevalle geheel en al na ander kommoditeite oorgeskakel. Hierdie tendens laat vrese bestaan dat suikerrietaanplantings deur makadamia-, sitrus- en avokado-aanplantings vervang kan word omdat hierdie bedrywe minder arbeidsintensief is. Die nadeel hiervan is dat werkloosheid en gepaardgaande armoede in suikerproduksiegebiede kan posvat.

Meer oor die plaaslike suikerbedryf

Die jaarlikse Suid-Afrikaanse suikerproduksie het van 2,75 miljoen ton in 2000 tot 2,1 miljoen ton in 2020 afgeneem. Statistiek toon voorts dat in dieselfde tydperk, die aantal produsente met 60% en die aantal werknemers met 45% gedaal het.

Demografies, word suikerriet hoofsaaklik in Mpumalanga en KwaZulu-Natal verbou, en kommersiële produsente is verantwoordelik vir die verbouing van 80% van die land se suikerriet. Die oorblywende 20% word deur kleinboere geproduseer. Van die 21 500 geregistreerde suikerprodusente is ongeveer 1 300 groot- en 20 200 kleinskaalse produsente.

In terme van produksiehoeveelhede, wissel opbrengste vanaf 30 ton per seisoen vir kleinboere in KwaZulu-Natal, tot ongeveer 95 ton per seisoen vir kommersiële produsente in Mpumalanga.

Suikerrietprodusente behoort aan die Suid-Afrikaanse Suiker Assosiasie (SASA), wat deur meulenaars en produsente gefinansier word. SASA staan voorts onder die beskerming van die suikerwet van 1978 (wet 9), en is verantwoordelik vir die bestuur van die waardeketting. Laasgenoemde sluit aspekte soos uitvoere, kwaliteitskontrole en beleidsake in.