Verwoestende veldbrande groot bekommernis vir landbou

  • 10 September 2021
  • 1472
  • nuus



Na beraming het meer as ’n 270 000 hektaar die naweek in die Noord-Kaap afgebrand.

In die Vrystaat is meer as 52 plase verwoes. Een van die landbouers het 90% van sy 1 000 hektaar-plaas verloor, insluitend 400 dragtige ooie.

In die Noordwes-provinsie is na beraming meer as 500 000 hektaar in vier maande afgebrand. “Dit beslaan bykans 5% van die totale provinsie se oppervlakte,” sê Andrea Campher, Agri SA Risiko en Rampbestuurder. “Agri SA, deur sy strukture, is besig om die omvang van die skade te bepaal, maar is bekommerd dat die uitdagings op grondvlak baie groter is as die inligting tans tot ons beskikking.”

Droë en sterk winde die laaste paar weke het die ideale toestande vir wegholbrande geskep. “Die omvang van die skade is so groot dat, indien die geaffekteerde dele as rampgebiede verklaar word, die staat nie oor die vermoë sal beskik om boere by te staan nie,” sê Campher.

“Weens burokratiese rompslomp sal ramphulp nie betyds gelewer word nie, omdat staatshulpbronne onder druk geplaas is weens die Covid-19-pandemie. Die droogtehulp wat tans verskaf word is onder die vaandel van die heersende droogterampverklaring wat deur die regering gemaak is.”

Die aanvraag na ruvoer is reeds onder druk weens voerhulp wat aan droogte-geteisterde gebiede voorsien word. “Die beskikbaarheid van ruvoer is ook onder druk aan die einde van die winter aangesien die lente groeiseisoen nog nie begin het nie,” sê Willem Symington, voorsitter van Agri SA se Natuurlike Hulpbronne Sentrum van Uitnemendheid.

Agri SA moedig die publiek aan om by te dra tot die organisasie se ramphulpfonds, wat deur Agri SA Disaster Relief Foundation bestuur word. “Donateurs kwalifiseer ook vir ’n artikel 18A-sertifikaat,” verseker Campher. “Fondse sal spesifiek aangewend word vir die aankoop van veevoer, vervoerkostes en infrastruktuur soos omheining om lewende hawe te beveilig.”

Gebruik die volgende rekening vir finansiële bydraes:

Agri SA ABSA
Rekening: Tjek
Rekeningnr: 4068540775
Takkode: 632005
Verwysing: Fire Aid
E-pos die bewys van betaling aan support@agrirelief.org

Navrae:

Andrea Campher
Agri SA Risiko en Rampbestuurder
(S) 079 887 2174

Willem Symington
Agri SA Voorsitter Natuurlike Hulpbronne Sentrum van Uitnemendheid
(S) 084 592 7474