Weervooruitsigte gunstig vir strooptyd




Sommige weermodelle dui aan dat net die suidelike dele van Suid-Afrika reën kan verwag, terwyl ander weermodelle aandui dat neerslae verder noord moontlik is.

Volgens Van den Berg het ʼn Atlantiese hoogdrukstelsel sedert die laaste week van April oor die land versterk en dit demp die ontstaan van laagdrukstelsels, wat reën kan veroorsaak, oor die grootste deel van Suid-Afrika. Dit is goeie nuus vir saaiboere in die somerreënstreek wat hul gesaaides wil stroop. Reën gedurende April het strooptyd in baie dele onderbreek of vertraag, met sommige boere wat steeds wag vir landerye om droër te word sodat hulle kan stroop.

“Aan die begin van die oestyd lyk dit asof die opbrengste van die eerste sojabone goed is. Opbrengste van meer as 3t/ha word plek-plek in onder meer die noordelike dele van die Vrystaat behaal. Die kolle wat versuip het of te veel water gekry het, kon nog nie gestroop word nie en sal baie laer opbrengste gee,” sê Van den Berg.

Ryp en koue

Ryp en koue wat tot dusver plek-plek voorgekom het, het volgens Van den Berg nie grootskaalse skade aan laat aanplantings van somergrane veroorsaak nie.

ʼn Goeie groeitempo vir laat aanplantings is wel benadeel deur die koeler en bewolkte toestande veral in April omdat heelwat minder hitte-eenhede beskikbaar was. Dit is daarom noodsaaklik dat laat aanplantings tans die hitte-eenhede wat nog beskikbaar is, kan gebruik om veral pitmassas te verhoog.

Reënvooruitsigte

Van den Berg sê baie min of geen reën word oor Angola, Zambië, Zimbabwe, Botswana, Mosambiek en die noordelike helfte van Suid-Afrika tot ten minste 16 Mei voorspel nie. Daar kan egter reën voorkom as gevolg van ʼn koue front wat vanaf 17 Mei oor die suidelike helfte van Suid-Afrika, en selfs oor die westelike binneland, ligte reën kan veroorsaak. Meer reën is moontlik oor die suidoostelike binneland vanaf ongeveer 19 Mei.

Weerstoestande tydens Nampo

Swaar reën word nie gedurende die week van 16 tot 20 Mei oor die Noord-Vrystaat en veral Bothaville voorspel nie. Die rede hiervoor is die hoogdrukstelsel wat vanuit die weste oor die land geleë is redelike ongunstige reënvaltoestande tot gevolg het. Gevolglik sal slegs bewolkte toestande en moontlike ligte reën voorkom.

Voorspellings vir maksimum temperature vir die Bothaville-omgewing van 16 tot 20 Mei, wanneer die Nampo-oesdag aangebied word, wissel van 20°C tot 25°C. Die minimum temperature gaan redelik laag wees, met verwagte minimum temperature van 5°C tot 7°C.