Witmielieverskansingsalternatiewe Invloedryke markprysdrywers

  • 17 April 2020
  • 2638
  • nuus



Die volgende twee artikels is daarop gemik om praktiese insig te gee oor hoe ’n mens die seisoenale prysontwikkelingsverwagting kan evalueer ten einde te besluit oor ’n meer optimale prysrisikobestuursalternatief. In die eerste artikel word al die faktore wat ingesluit is, geïdentifiseer en die tweede artikel sal resultate vervat wat uit die analise verkry is.

Prysvorming in elke mark is hoofsaaklik gebaseer op die interpretasie van en reaksie op nuwe inligting deur rolspelers. Die aanpassings van markpryse gebaseer op ’n logiese of algemene verwagting van die impak van veranderinge in invloedryke markprysdrywers, vorm die basis vir effektiewe prysvorming. Dit is dienooreenkomstig sinvol om die invloedryke faktore of drywers van die JSE APD witmielieprys in ag te neem.

Die hoofdoel is om verskillende produksieseisoene met mekaar te vergelyk deur ooreenkomste tussen hierdie invloedryke markfaktore of markdrywers te probeer bepaal en die mark daarvolgens te karakteriseer. Daarna kan ’n optimale verskans ingstrategie vir 'n spesifieke tipe seisoen vooraf geïdentifiseer word in aanloop tot ’n nuwe seisoen namate sekere ooreenkomste tussen invloedryke markdrywers duidelik word. Om die ooreenkomste te identifiseer, is al die faktordata ingesluit deur middel van persentielgroepering.

Dit beteken dat hierdie faktore ’n spesifieke waarde op ’n spesifieke tydstip aanneem en die groepering van hierdie waardes die koppeling van verskillende produksieseisoene moontlik maak op grond van die ooreenkomste tussen die faktorwaardes van verskillende produksieseisoene op ’n spesifieke tydstip.

Samevattend bied die individuele faktorpersentielgroepe (gebaseer op maandelikse waardes) in Tabel 1 ’n oorsig van hoe die relatiewe waarde of vlakke van hierdie maandelikse groepwaardes geïnterpreteer is.


Ten einde ’n meer vooruitskouende benadering tot die ontwikkeling van die Julie witmielietermynkontrakprys in te sluit, is vier bykomende faktore bygevoeg.

Hierdie faktore is die algemene prysneiging van die kontantprys, historiese en verwagte eindvoorraadvlakke, insetkoste in verhouding tot die prysvlak op die tydstip waarop ’n produksiebesluit geneem moet word, sowel as gerealiseerde en verwagte El Niño- en La Niña-verskynsels.

Hierdie faktore bied ’n meer holistiese oorsig vir die seisoen, kan die produksiebesluit van produsente beïnvloed en speel ’n groot rol om die langtermynprysvormingsverwagting van rolspelers oor die algemeen te vorm. Al hierdie faktore bied verder ’n enkele waarde op ’n spesifieke tydstip vir elke afgelope seisoen, maar dit is ook moontlik om ’n verwagte waarde uit bestaande gegewens vir die volgende seisoen te verkry.

Die volgende artikel sal die resultate van die groeperingsanalise verskaf en ook waardevolle aspekte bespreek wat oorweeg moet word wanneer invloedryke markprysdrywers geanaliseer word ten einde produksiejare en verwagte prysvorming te vergelyk.