Insetbewyse poog om bestaansboere te bemagtig

  • 06 November 2020
  • 2181
  • nuus



Didiza verduidelik dat die fokus van dié inisiatief val op bestaansboere wat binne die konteks van huishoudelike- en landelike gebiede funksioneer, met ʼn maksimum grondgrootte van tussen ʼn kwart en een hektaar. Aansoeke sal reeds in November oopgestel word en belangstellendes sal via ʼn mobiele platform kan aansoek doen.

Volgens Didiza poog haar departement om deur inisiatiewe, soos hierdie, ʼn ondersteunende beleidsomgewing daar te stel ten einde die veerkragtigheid van die voedselwaardeketting te verhoog. Die inisiatief behels die opgradering van agt bestaande produksieskemas en sal gevolglik met behulp van ʼn distriksgebaseerde ontwikkelingsbenadering ingefaseer word, ten einde massa indiensneming te bevorder.

Aansoekers moet aan die volgende kriteriums voldoen:

  • Aansoekers moet ʼn Suid-Afrikaner wees, met ʼn geldige identiteitsdokument.
  • Aansoekers moet tans aktief by landbouproduksie betrokke wees.
  • Voorkeur sal as volg aan bestaansboere verleen word: 50% vroue, 40% jeugdiges en 5% persone met gestremdhede.
  • Produksieaktiwiteite moet in landelike gebiede plaasvind (kan agtertuine en selfs balkon-tuine insluit), terwyl gemeenskaplike lande, meentgrond, gemeenskapsgrond en selfs skooltuine vir produksie gebruik word.
  • Bestaansboere wat nog geen geldelike hulp gedurende die huidige finansiële jaar vanaf die departement ontvang het nie.

Die maksimum produksiegrootte word as volg beskryf:

  • Vrugte en groente: 1 hektaar
  • Mielies, soja, katoen, suiker: 1 hektaar
  • Lêhoenders: 50 of minder
  • Braaihoenders: 100 of minder
  • Lewendehawe (klein): 25 of minder diere
  • Lewendehawe (groot): 5 of minder diere
Geen regeringsamptenare of salaristrekkers sal vir die insetbewyse kwalifiseer nie, terwyl daar voorts ook slegs een aansoek per huishouding oorweeg sal word. Volgens die departement wissel die insetbewyse vanaf R1 000 tot en met R9 000, afhangend van die betrokke kommoditeit en die skaal van verbouing.