Aartappels Suid-Afrika se eerste toekenning aan Ondernemingsontwikkelingsboer van die Jaar




Die kriteria waarvolgens die drie finaliskandidate aangewys word, is dat hulle 'n Aartappels Suid-Afrika Ondernemingsontwikkelingsprogramprodusent moet wees wat vir minstens drie jaar lank al deel van die program is. Die kandidaat moet 'n minimum van vyf hektaar aartappels plant, moet 'n heffingsbetaler wees en moet die vermoë hê om die verpligte  bydrae tot die program te betaal. Kandidate moet bedryfsvergaderings en geleenthede wat deur Aartappels Suid-Afrika gereël word, bywoon. Hulle moet ook deelneem aan die uitbreidingsprogram of in staat wees om uit te brei sonder die ondersteuning van Aartappels Suid-Afrika.

Phophi Raletjena het 15 jaar gelede met kool begin boer op gemeenskapsgrond. Hy is bygestaan deur kommersiële boer, Auwke Jongbloed, wat sowat 30 km van hom af gewoon het. Hulle het besluit om 'n kwart hektaar kool te plant en dit aggressief te bemark in die plaaslike dorpie, met sowat 5 000 huishoudings. Die onderneming was suksesvol en het uitgebrei na 20 hektaar. Soos wat aanvraag uitgebrei het, het Phophi 'n addisionele 100 hektaar op nabygeleë grond gehuur, waar Auwke Jongbloed hom aan aartappelproduksie voorgestel het.

Hy het in alle erns in 2010 op 'n klein skaal op vyf hektaar met aartappelproduksie begin en toerusting van sy mentor, Auwke, gehuur. Hy het van krag tot krag gegaan en uiteindelik meer grond benodig vir oesrotasie. 'n Suksesvolle aansoek by die Departement van Landelike Ontwikkeling het Phophi in staat gestel om die plaas by Vivo te huur, waar hy die afgelope ses jaar al met aartappels boer.

Phophi het by die Aartappels Suid-Afrika Ondernemingsontwikkelingsprogram aangesluit en begin met vyf hektaar onder aartappelproduksie, wat nou na 30 hektaar onder besproeiing uitgebrei het.

Phophi is waaksaam ten opsigte van peste en siektes en doen daaglikse landinspeksies. Hy sê: “Die blare is die fabriek en aartappels benodig die blare vir fotosintese, veral tydens massavorming. Wanneer jy die blare verloor as gevolg van 'n pes of siekte, kan jy jou hele oes verloor. Dit is waarom dit belangrik is om jou saad vooraf te behandel en siektes te voorkom wat in die lug en grond oorgedra word.”

Die sleutel tot sukses volgens Phophi is opbrengs. Hy mik vir 50 ton per hektaar vir Mondials, maar oes soms 55 ton. Die grootste deel van sy aartappeloes word aan kopers van Mosambiek verkoop, ongewas in 10 kg sakke.

Phophi skryf sy sukses eerstens daaraan toe dat hy sy opbrengs verhoog het en tweedens aan sy vermoë om inligting van ander te verkry en van ander te leer. Hy sê dat die manier waarop jy jou produk verkoop en prys ook baie belangrik is, sowel as die verhoudings wat jy het met verskillende belanghebbendes in die bedryf. Phophi sê: “Baie van my eweknieë het begin en misluk omdat hulle boerdery as 'n tweede opsie beskou en nie as die hoofbron van inkomste nie. As jy 'n lewe daaruit wil maak, moet jy dit maak werk - dis wat jou aanspoor tot sukses.”