Tree nou op maan Agri SA om sprinkaanplaag te voorkom




Volgens Andrea Campher, bestuurder van die risiko-en-rampeenheid van Agri SA, was die vorige somerseisoen se sprinkaan-uitbrekings die ergste in 25 jaar en dat sowat 90% van die aangetaste gebiede uit landbougrond bestaan het.

Uitbrekings is reeds in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap aangemeld.

Campher waarsku dat vernietigende swerms veral in die komende somer verwag word aangesien die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) bogemiddelde reënval voorspel. Die gevaarligte flikker egter, omdat daar volgens haar ongeag die erns van die bedreiging, sprinkaanbeamptes in die betrokke provinsies is wie se kontrakte nie tydig hernu is nie. In die lig hiervan het Agri SA ʼn dringende vergadering met die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, en die direkteur-generaal van die departement, Mooketsa Ramasodi, aangevra om die departement se reaksie op hierdie dreigende ramp te bespreek.

Behalwe vir die dringende finalisering en uitreiking van sprinkaanbeamptes se kontrakte, sal aspekte soos die verkryging van insekdodervoorrade en spuittoerusting, die verspreiding van beskermingstoerusting vir beamptes, die opleiding van nuwe beamptes en die departement se kapasiteit om eise vir betaling te verwerk op die agenda wees.

Volgens Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en lande ontwikkeling, word die hernuwing van kontrakte oorweeg vir al die sprinkaanbeamptes wat goed met die departement saamgewerk het. Hy verduidelik voorts dat diegene wat oud is of nie hul pligte na behore nagekom het nie, se kontrakte nie hernu sal word nie.

Nuwe kontrakte word tans, volgens Ngcobo, uitgereik in gebiede waar uitbrekings reeds aangemeld is. Hy herinner ook produsente daaraan dat dit volgens wet hul plig en verantwoordelikheid as grondeienaars is om die uitbreking van sprinkane te monitor, aan te meld en te bekamp.

Sprinkaanuitbrekings moet by die departement se sprinkaankantoor op De Aar by 053 631 3122 of 053 631 2361, of die kantoor op Upington by 083 326 7773 aangemeld word. Swerms kan ook aangemeld word per Whatsapp by CropLife se 082 446 8946.