Hoekom herlaai jy?




Vroeg Saterdagoggend pak ek my voertuig om ’n paar ladings op die skietbaan te gaan toets. Die verskillende ladings is die vorige aand tot laat gelaai. Die koeëls se diepte asook die kruit se gewig is aangepas. Elke groepie van drie rondtes is uniek en anders as die ander groepie. Na ’n paar kuiers by die kenners en ‘n paar laat nagte het ek hopenlik ’n kombinasie wat vir my die gewenste groepering sal gee. 

Na ’n paar ure op die baan het ek ’n idee van watter kombinasie my geweer van hou en wat ek moet herlaai. Nou kan ek die res van my naweek gebruik om ammunisie te herlaai met die resep wat ek Saterdagoggend uitgekies het. Teen Sondagmiddag laat staan my ammunisie op die tafel. Ek het alles self gemaak. Self uitgewerk waarmee my geweer akkuraat skiet, en ook genoeg ammunisie gelaai sodat ek dié jaar lekker kan gaan jag. 

Die herlaai van ammunisie is ’n proses wat so oud is soos gewere self. Die herlaaiproses van die eerste gewere het net voor die afvuur van die geweer plaasgevind. Die herlaaiproses het nie in ’n vertrek weg van die aksie af plaasgevind nie. Die kruit en koeël is voor by die loop ingegooi net voordat jy wou skiet. Die slagdop het vroeër jare nog aan die buitekant van die loop gesit. Met die verloop van tyd het die slagdop na binne die loop verskuif en deesdae is die slagdop, kruit en koeël een enkele produk wat deur ’n dop bymekaar gehou word. 

Die herlaai van ammunisie is dus net so oud soos gewere self. Die skiet van gewere kan maar moeilik plaasvind sonder dat daar herlaai word. Die aankoop van ammunisie is dalk vinniger en nie veel duurder as herlaai nie. Maar vir skuts wat die ware ervaring van skiet wil hê, bly herlaai nou maar net deel van skiet. Die gevoel as drie skote mekaar op 100 m raak. Of die gevoel as jy die koeël wat hy self herlaai het, uit die gemsbok sny. Die trots en tevredenheid van iets wat jy self uitgewerk het, ken geen einde nie. Daardie koeël word beter bewaar en meer stories oor vertel as oor die jag self. Herlaai is dus ’n proses wat skuts aanpak om hulle gewere meer akkuraat te maak en om hulle jag nog meer te geniet. 

WAT HET ’N SKUT NODIG OM TE BEGIN HERLAAI? 
In Suid-Afrika mag enige wettige houer van ’n geweerlisensie, herlaai. Jy het jou lisensie nodig om kruit en slagdoppies te koop. Al die ander komponente wat jy nodig het vir herlaai, word nie deur enige wet beheer nie. Koeëls, doppe en herlaaitoerusting mag aangekoop word sonder ’n vuurwapenlisensie. 

Herlaaitoerusting is die duurste komponent van herlaai. Dit is gelukkig toerusting wat net een keer aangekoop word. Probeer dus om goed genoeg te koop sodat jou produkte wel ’n leeftyd kan hou.

WAT VIND PLAAS TYDENS DIE HERLAAIPROSES? 
Kortliks word die volgende gedoen om ’n gebruike dop te herlaai sodat hy weer gebruik kan word om te skiet. Die dop word met behulp van ’n matrys gevorm sodat dit weer in die geweer se loop kan pas en die koeël styf genoeg kan vashou. Die ou slagdop word ook in die proses uitgedruk. 

Die dop word dan skoongemaak en die lengte word gemeet en teruggesny, indien nodig. Tydens die vuur van die rondte en die vorming in die eerste stap, rek die dop. Daarom moet dit korter gesny word na die verlangde lengte. Na die sny en skoonmaak van die dop, word ‘n nuwe slagdop teruggedruk in die dop in. Die kruit word dan noukeurig afgemeet en in die dop gegooi. Elke dop se kruit word deur ’n skaal geweeg en daar word seker gemaak dat die regte hoeveelheid kruit per dop gebruik word. 

Laastens word die nuwe koeël weer in die dop teruggedruk. Die lengte van die patroon word noukeurig bevestig om seker te maak die koeël is nie te vlak of te diep in die dop ingedruk nie. 

Sodra die kruishaar pad vat na die eland se blad toe, en net agter die blad stil staan, weet jy dat ’n suksesvolle skoot nou net van jou afhang. Jy het reeds jou voorbereiding gedoen en jou ammunusie kan nie beter nie. Nou kan al jou aandag op die een saak wees wat hom voordoen, naamlik die aftrek van die sneller. Al die ander voorbereiding is reeds sorgvuldig gedoen en daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Die sukses van die jag het een Saterdagoggend reeds op die skietbaan begin! Nou gaan die biltong net soveel lekkerder wees vir Saterdagmiddag se rugby!