Die impak van landboubewaringspraktyke op grondgesondheid




Die sanderige gronde van die Noordwestelike Vrystaat is bekend vir hul inherente kompaksieprobleem, lae vlakke van organiese stowwe en lae voedingstof- en waterretensievermoë. Navorsing in die 1970's het tot die implementering van die rip-op-ry (ROR) bewerkingstelsel, wat bestaan het uit rip op verskeie dieptes, meestal op die ry, gekombineer met sekondêre vlak bewerkingspraktyke. Werklike probleme wat steeds bestaan is die korttermyn residuele effek van ROR, swak retensie van oesreste, grondverliese en skade aan saailinge weens winderosie en die impak op fluktuerende watertafels.
 
'n Uitgebreide ondersoek gebaseer op Landboubewaringsbeginsels en praktyke (CA = Conservation Agriculture), is in 2016 deur die Sandgrond Ontwikkelingskomitee geloods om die produktiwiteit van die gronde te verbeter en in stand te hou met die oog op nasionale voedselsekuriteit. Die klem sal op die volgende wees: (i) swak grondgesondheid, (ii) grondkompaktering, (iii) diversifisering van jaarlikse gewasstelsels om peuldraende gewasse, meerjarige gewasse en voere in rotasiestelsels in te sluit, (iv) die gebruik van dekgewasse saam met rygewasse, (v) integrasie van lewendehawe met gewasstelsels (vi) voorkoms van kroonverrotting en wortelverrotting, aalwurmbesmetting, mikrobiese diversiteit en aktiwiteit en (vii) winsgewendheidsinligting oor verskeie CA-stelsels en praktyke.
 
Hoogtepunte van die eerste seisoen (2016/17):
Proef 1: Regeneratiewe CA gewas-lewendhawe geïntegreerde stelsel met rotasie van mielie somer-winter diverse rusoeste (Danie Crous, Deelpan, Kroonstad):
 
Groei en opbrengs van gewasse:
  • Droëmateriaal (DM) opbrengste van somerdekgewasse het gewissel tussen 14.5 en 17.1 t ha-1, terwyl DM-opbrengste van winterdekgewasse gewissel het tussen 11.3 en 16.1 t ha-1.
  • Die winterdekgewasse het die hoogste waterverbruikseffektiwiteit (WUE = water use efficiency) gereflekteer, vergeleke met die somerdekgewasse (36.6 vs. 25.9 kg droëmateriaal mm-1 ha-1), terwyl die monokultuur mielies 'n WUE van 14.3 kg graan mm-1 ha-1 behaal het.
 
Grondwaterstudies:
  • Die somerdekgewasmengsel het aanleiding gegee tot 'n opbou van grondorganiese koolstof (SOC - soil organic carbon) in die 0-100 mm laag van 0.74% C in vergelyking met byvoorbeeld 0.49% C onder 'n grasland.
  • Tussen reënvalepisodes het die grondwaterinhoud (SWC- soil water content) vinnig die permanente verleppunt bereik. SWC was baie laer by die somerdek¬gewasmengsel in vergelyking met die mieliegewas onmiddellik na 'n reënvalepisode. Dit is waarskynlik weens die versperring van reën deur die blaredak van die vorige oeste, gevolg deur verdampingsverliese direk vanaf die blaredak. 'n Volledige SWC profiel is op die oorlêland gemeet voor die winterdekgewasse geplant is.
  • Uitloging van duur en gesondheidsbedreigende NO3-N op hierdie sanderige gronde blyk 'n ernstige probleem te wees. 'n Verdere gesondheidsbedreigende komponent was die teenwoordigheid van hoë konsentrasies NO2 (nitriet). Ander plantvoedingstowwe, soos PO4, K, Ca en Mg, was ook teenwoordig in beide watertafels op alle proefdatums.
 
Wortelpatogene en grond mikrobiese studies:
Aangesien dit die eerste seisoen is, sal die tendense wat waargeneem is as basis dien vir die opvolgende seisoene.
 
Proef: Interaksie van plantrywydte, plantestand en kultivar as komponent tot die volhoubare verbouing van monokultuur mielies op sanderige gronde (Thabo van Zyl, Doornbult, Bothaville):
 
Agronomiese waarnemings:
  • Mielies in 1.524 m rye het 2.5 keer die aantal uitloopsels in vergelyking met plante in 1.016 m rye.
  • Die mielieopbrengs is deur beide plantestand en rywydte geaffekteer. Die mean opbrengs van die 1.016 rye was 1.37 t ha-1 hoër as dié van die 1.524 m rye. Die resultate van die opbrengs per plant wat verband hou met plantestand en rywydte, dui aan dat die kultivar bestandheid demonstreer teen die stremming wat deur verhoogde/digter plantestand veroorsaak word.
  • Die beste marges is gerealiseer in smal (1.106 m) rye met 'n digte plantestand, vergeleke met wyer (1.524 m) rye. Byvoorbeeld, R5082 ha-1 en R5153 ha-1 is gerealiseer met smal rye met 'n plantestand van 30 000 en 50 000 plante ha-1, respektiewelik. Met die wyer rye (1.524 m), was die hoogste marge (R3001 ha-1) verkry met 'n plantestand van 25 000 plante ha-1, vergeleke met R1703 en R2356 ha-1 vir 20 000 en 50 000 plante ha-1 respektiewelik.
 
Proef: Interaksie van plantestand en kultivar as komponent tot die volhoubare verbouding van monokultuur mielies op sanderige gronde (Danie Minnaar, Vlakvlei, Kroonstad):

Agronomiese waarneming:
  • Die aantal uitloopsels per plant was nie deur saaidigtheid geaffekteer nie.
  • Elke kultivar het 'n unieke opbrengsreaksie op saaidigtheid gehad. Optimale plantdigtheid het bo 23000 ha-1 geblyk te wees.
  • Kultivar 78-87Bt met 'n plantestand van 24 000 plante ha-1 het 'n effense hoër (R12246 ha-1) marge as 26 000 plante ha-1 (R12187 ha-1) gerealiseer.  Die ekonomiese optimale populasie vir kultivar 78-87Bt blyk 22000-24000 plante ha-1 te wees.
  • Vir kultivar 78-17Bt het 'n plantestand van 26 000 plante ha-1 'n hoër opbrengsmarge (R11443 ha-1) as vir 24 000 plante ha-1 (R10891 ha-1), gelewer.
  • 'n Vergelyking van die marges van die twee kultivars dui aan dat kultivar 78-87Bt met 'n plantestand van 24 000 plante ha-1,, 'n R803 ha-1 hoër marge gelewer het as die   26 000 plante ha-1 van kultivar 78-17Bt.
 
Proef:  Die optimale ripdiepte vir die volhoubare verbouing van monokultuur mielies op sanderige gronde (Thabo van Zyl, Doornbult, Kroonstad):
  • Graanopbrengs het liniêr verhoog by ripdieptes van 45 tot 75 cm teen 'n verhoging van 0.87 t ha-1 per 100 mm in ripdiepte.
  • Geen beduidende opbrengsreaksie is waargeneem deur die ripdiepte tot meer as 75 cm te verhoog nie.
  • Die 90 cm rip het 'n effense hoër marge gelewer as die 75 cm rip. Addisionele kapitaalkoste sal egter die finansiële voordeel elimineer. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat rip tot 'n diepte van 90 cm nie finansieel meer voordelig sal wees as die huidige praktyk om tot 'n diepte van 75 cm te rip nie.
  • Rip tot 'n diepte vlakker as 75 cm sal nie ekonomies lewensvatbaar wees nie.
 
Ter opsomming kan die volgende gevolgtrekking gemaak word: 
Alhoewel dit die eerste eksperimentele seisoen was, is waardevolle resultate verkry wat die basis sal vorm vir opvolgende seisoene. Alle plaasproewe was lewensvatbaar en het die potensiaal om by te dra tot praktiese landboubewaringspraktyke van grondgesondheid as belangrike faktor in volhoubare droëland-mielieproduksiestelsels op semi-droë sanderige gronde met watertafels in die Noordwestelike Vrystaat.
 
 





Verwante Artikels

Verander Taal

English

Gewildste Artikels

Ontsluit jou spuit belegging
| 11 September 2018

Verken die handelsmerke agter die produkte
Sponsored | 10 September 2018