Die Nasionale Minimum Loon




Oor die algemeen dui die verslag daarop dat beperkende arbeidsregulasies gesien word as een van die mees problematiese faktore by die doen van besigheid in Suid-Afrika.  Dit is dus duidelik dat dit uiters belangrik is om op hoogte te bly en te voldoen aan die vereistes van arbeidswetgewing, asook klem te lê daarop om arbeidsverhoudinge proaktief te bestuur.

Die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, het die algemene publiek op 26 Maart 2018 in kennis gestel dat die Nasionale Minimum Loon Wet (NMLW) nie op 1 Mei 2018 inwerking sal tree nie.  Op 29 Mei 2018 word die NMLW aanvaar deur die Parlement en moet die wetgewing eers deur die staatspresident onderteken word waarna die president ‘n implementeringsdatum sal bepaal.  ‘n Nuwe implementeringsdatum is dus nog nie aangedui nie en is werkgewers steeds in die donker met betrekking tot die doen van finansiële beplanning vir loonverhogings om aan toepaslike wetgewing te voldoen.  Die Minister van Arbeid het ook op 30 Mei 2018 die regulasies vir die aansoek om kwytskelding om die nasionale minimum loon te betaal, gepubliseer vir publieke kommentaar.

Sedert die begin van die proses drie en 'n half jaar gelede om 'n NMLW te implementeer, bestaan daar nog baie onsekerheid ten opsigte van die NMLW met spesifieke verwysing na die implementeringsdatum, die minimum loonbedrag, vrystellings, ens.  Dit skep groot onsekerheid vir beide werkgewers en werknemers en kan ook lei tot sekere verwagtinge as gevolg van beloftes wat konflik in die werkplek kan veroorsaak.

Totdat die NMLW inwerking tree, moet werkgewers in die landbousektor steeds voldoen aan alle aspekte soos bepaal deur Sektorale Vassteling 13, wat arbeidsverhoudinge in die landbousektor reguleer.  Die minimum loon vir werknemers in die landbousektor, wat vanaf 1 Maart 2018 geld, is soos volg:
  • Uurtarief:  R16.25
  • Daaglikse tarief:  R146.28 (vir werknemers wat 9 ure per dag werk)
  • Weeklikse tarief:  R731.41
  • Maandelikse tarief:  R3 169.19

Ander bepalings in die Sektorale Vasstelling is ook steeds van toepassing, met verwysing na verlof, werksure, aftrekkings, oortyd, behuising, ens.

Wanneer die NMLW inwerking tree en geïmplementeer word, sal werkgewers verplig wees om die vasgestelde bedrag te betaal.  Hierdie bedrag is tans vasgestel op R20.00 per uur vir alle werknemers in Suid-Afrika, ongeag die bedryf of industrie waarin hul werksaam is.  Die landbou/bosbou en huiswerkersektore het reeds vrystelling ontvang om onderskeidelik 90% en 75% van die nasionale minimum loon te betaal.  Dit bereken tot R18.00 per uur vir die landbou/bosbousektore en R15.00 per uur vir die huiswerkersektor.  Werkgewers in die landbousektor moet verder kennis neem dat huiswerkers op ‘n plaas geag word as plaaswerkers en dus die korrekte loon moet ontvang. 

Hierdie vrystelling is geldig vir twee jaar, waarna alle werkgewers minstens die nasionale minimum loon soos aangekondig moet betaal. Afhangende van besluite wat in die parlement geneem word, kan hierdie tydperk van twee jaar nog verander, maar die twee jaar is die jongste gepubliseerde inligting beskikbaar.

Daar kan met reg gesê word dat die hele aangeleentheid rondom die NMLW tot groot onsekerheid in die werksomgewing gelei het en sal duidelikheid verwelkom word.  Om aan arbeidswetgewing te voldoen is nie onderhandelbaar nie en hou ‘n groot besigheidsrisiko in vir die werkgewer.