Graanmarkvooruitsigte




Inleiding:

Met oestyd wat naderkruip begin produsente se fokus  verander vanaf die produksie van graan na die bemarking daarvan. Die realiteit van lae pryse teen die agtergrond van meer as voldoende voorraadvlakke, beklemtoon die belangrikheid van korrekte bemarkingsbesluite. Met die betreklike lang tydperk tussen die skryf en publikasie van hierdie tipe artikels raak dit byna onmoontlik om  ‘n toepaslike scenario-analise te bied wat kan help om ‘n bemarkingsbesluit te fasiliteer. Daar word dus slegs gepoog om ‘n makro-ekonomiese oorsig op die belangrikste prysdrywers te gee.

Wisselkoers:

Veranderings in die R/$ wisselkoers het ‘n wesenlike impak op plaaslike graanpryse. Oor die langer termyn is die rand besig om te versterk – daar is nie tans aanduidings dat hierdie tendens besig is om te verander nie. Daar word egter nie wesenlike versterkings verwag nie – daar kan dus stabiliteit rondom R12/$ verwag word.


Internasionale markte:

Die internasionale mark is nou in die tydperk waar die Suidelike Halfrond se oeste gefinaliseer word, terwyl die Noordelike Halfrond se oeste aan die begin van die plantseisoen staan. Die belangrikste rolspelers hier is die produksie vanuit Suid-Amerika in die suide en die VSA in die noorde.

Suid-Amerika:

Brasilië het ‘n goeie produksieseisoen ervaar, met oeste wat naby aan laasjaar se rekordoeste is. Die groot oeste in Brasilië word egter gedeeltelik afgespeel deur ‘n merkbaar swakker oes in Argentinië. 


Argentinië en Brasilië is die sterkste kompetisie vir ons plaaslike mielies in die uitvoermark. Plaaslike pryse sal dus deurentyd vergelyk word met Suid-Amerikaanse pryse om winsgewende uitvoere te verseker.

VSA:

Die VSA gaan ‘n tydperk in waar produsente ‘n keuse moet maak tussen die aanplant van mielies teenoor sojabone. Met mielie-aanplantings wat tans minder winsgewend is as sojaboonaanplantings, is die verwagting dat VSA mieliepryse relatief tot sojaboonpryse sterker behoort te bly. Die VSA skop verder nie die plantseisoen op ‘n gunstige noot af nie – groot dele van die produksiegebiede word as droog geklasifiseer en sal reën moet ontvang voor aanplantings gedoen kan word.

Plaaslik:

Die belangrikste kenmerk van die plaaslike mark is tans die oormaat voorraad wat van die 2017/18 seisoen af oorgebring is. Dit het tot gevolg dat pryse waarskynlik nader aan uitvoerpariteit sal bly verhandel. Enige prysondersteuning sal waarskynlik vanuit ‘n swakker wisselkoers of stygende internasionale pryse kom aangesien beide hierdie faktore ‘n wesenlike invloed op pariteitspryse het.