Herfs in jou tuin




Iets om in gedagte te hou is dat kleur ’n tuin sommer vinnig kan opkikker. Kleur in jou tuin is soms afwesig en ’n perfekte oplossing, selfs tot in die diep herfs. Plesierige Afrikanertjies is ’n wenner wat met min inspanning oor lang tydperke blommeprag verskaf.

Bykomend hou dit ook die peste en goggas weg van ander plantegroei. Hoewel dit hope sonlig en water verkies, sal dit nie vergaan en sy prag verloor wanneer die aandag so bietjie agterweë gelaat word nie en die reën of boorgatwater bietjie opdroog nie.

’n Belangrike aspek in die herfts is die regruk en voorbereiding van die tuin vir die komende winter. Skoonmaak is dus noodsaaklik. Die winter kom ook vinnig nader en dit moet in gedagte gehou word dat ryp en koue onvoorspelbaar is, soos Thys Grobbelaar tereg verwys in sy artikel (Senwes Scenario Herfs uitgawe, bladsy 17) oor hoe die reënvalpatrone skuif. Dit reën dalk kumulatief dieselfde oor langer tye, maar die seisoene skuif verseker, wat by tuinwerk in ag geneem moet word. Soms verspoel ons tuine en ander kere moet die waterkar maar nader gesleep word. So, beplan nou reeds en vermy die opeenhoping van tuintakies wat later volg.

Die volgende drie maande is ook die maande om jou winter- tot lentetuin te begin vestig. Bemes beddings en grasperke. Sekere plante kan nou al opgebreek en herplant word in beskutte areas, soos wilde iris en knoffel. Bykomend kan potplante ook oorgeplant word. Dis ook ‘n goeie tyd om bome en struike aan te plant.

Jy en jou tuinier ken jou tuin seker die beste van almal, maar onthou altyd, daar is kenners rondom ons by talle takke wat raad en hulp asook kwaliteit diens en produkte kan verskaf. Geniet die herfstyd en blom behoorlik in 2020!