Raymund de Villiers nuwelingteler verower gróót titel




Raymund is van die plaas Joubertsrus in die Sannieshof-distrik waar hy met SantaRay Santa Gertrudis-stoetbeeste boer. Hy is baie trots, soos hy dit stel, “om die Nampo van die beeswêreld te wen - daar is net niks beter nie.”

Op die vraag na wie hy opkyk in die teelbedryf, kom die naam Willie de Jager na vore, natuurlik ‘n groot Santateler asook beoordelaar – “Ek het nog nooit slegte raad van Willie ontvang nie.” So is dit maar in ‘n kompeterende bedryf waar hy orals maar bietjies-bietjies inligting bymekaar gemaak het soos diegene in die bedryf mekaar bel en inligting uitruil. Raymund noem dat sy vrou Irma, wat ‘n B.Sc Veekundegraad agter haar naam het, hom baie ondersteun.

Maar die vraag op almal se lippe is, wat het sy bul vanjaar die titel laat wen? “Hy het verskriklike sterk lende en sy haarkwaliteit was nogal uitsonderlik op die dag,” vertel Raymond trots.

Hinterland se Phillip Lee, Bestuurder: Veeboerderyoplossings, wat saam met Senwes Scenario besoek by Raymund-hulle afgelê het, vertel: “Daar was nie swak bulle nie. Ace is een van min bulle binne sy enorme vleiskapasiteit wat glad nie oorvet was nie. Dit is die ding wat hom deurgedra het. Hy is verseker ‘n bul wat sterk bespiering getoon het en een van die wat die meeste vleis gedra het. Raymund voeg by: “Ek het daar wel iets reg gedoen.”

Die vinnige roem was ook op sosiale media, waar hy sommer binne ‘n kort tydjie baie vriendskapsversoeke op Facebook ontvang het – “Dit is nogal skrikwekkend hoeveel mense my nou ken!” Hy is ook in Senweskringe bekend as ‘n Senwes Credit en Certisure kliënt.

Die titel is ook nie net vir hom nie. Die Hinterland Nasionale Interras Bulkampioenprys maak deure oop vir die bedryf en maak dat ‘n mens weer lus raak vir skou en bring prestige weer terug na skoue.

Maar met vier spruite, Lizette, Pieter, Almiré en Ray, is dit tans net Almiré wat lyk of sy in pa se voetspore sal volg aangesien sy baie betrokke by jeugskoue is.

Sy raad aan ander telers is om net lief te wees vir dit wat jy doen. As jy hou van die bees waarmee jy teel, sal jy ‘n sukses daarvan maak. Maar waarheen nou?

“As ek eendag ook die Hinterland Nasionale Interras Koeikampioenskap kan inpalm, sal ek regtig bly wees.”

Baie geluk met dié GRÓÓT titel Raymund! Senwes Scenario is saam met jou bly