See, son en spierwit strande bederf Senwes Equipment wenners




Wat ʼn wenprys! ʼn Familiewegbreek na ʼn idilliese eiland. Dit is wat die afgelope 2016/2017 vakansie op die wenner van die derde been van die WEN GROOT met Senwes Equipment en John Deere kompetisie, Charl Fourie, asook sy vrou Raisa en tweeling kinders Daniel en Lilene gewag het. Die sprokiesmooi Mauritius se asemrowende natuurskoon, met see en son waarvan meeste net kan droom.

Die prys het Charl te beurt geval nadat hy, om die minste te sê, redelik voluit gegaan het en e-pos inskrywing op e-pos inskrywing ingestuur het. Sodoende het Charl homself ‘n baie beter kans gegee om die prys in te palm. En dit het gewerk! Sy naam was toe wel die gelukkige een om uit ‘n massiewe aantal van 12 738 inskrywings getrek te word.

Charl en Raisa vertel dat die wegbreek ietwat van ‘n tweede wittebrood was. Hulle het op 3 Desember 2010 die knoop deurgehaak en einde 2016 was dit ook tyd vir hul sesde huweliksherdenking. Die verskil hierdie keer was dat hul familie gegroei het met die tweeling, wat op 12 Augustus 2015 gebore is en nou al amper ‘n jaar en ‘n half oud is.

Hulle wegbreek was heerlik met die swem-, eet- en slaaproetine wat ook lekker met die kinders uitgewerk het. Maar hulle moet bieg, dit was die tweede Mauritius-bederf nadat hulle in 2015 ook daar was.

‘n Bietjie meer oor Charl is dat die Pretoria-gebore boerseun by Fourie Boerdery tussen Bothaville en Hoopstad saam met sy broer Johnny en pa Anton boer. Hy bly op die plaas Lambrechtsfontein, wat sowat 35 km buite die mieliehoofstad, Bothaville, uit op die Hoopstadpad is en boer op die plaas Hendrik Theron.

Uitvoerende Bestuurder: Senwes Equipment, Ferdie Pieterse, het gesê dat dit nogal lekker is dat Charl, soos die ander twee wenners, ‘n produsent is wat ‘n lekker wenprys kon geniet.

Maar een ding is verseker, Charl en talle ander klante gaan na talle e-posse verseker nie vergeet van die naam Senwes Equipment nie! So het Charl verklap toe hy einde 2016 die prys by Ferdie Pieterse (Uitvoerende Bestuurder Senwes Equipment) en Jacques Stander (Senwes Bemarkingsbestuurder) in ontvangs geneem het.