Slaggate in korttermynversekering




Dit bewys net weereens dat korttermynversekering met al sy voorwaardes, uitsonderings en beperkings - die slaggate - nie so eenvoudig is nie.
 
Ons is tans besig met die bespreking van die Brandtipe Afdelings en het in die vorige uitgawe, in Deel 8, gekyk na Afdeling Huiseienaars, nl. die woonhuisgebou en al die strukture van 'n huishoudelike aard wat op die plaaswerf aangebring is.
 
In hierdie uitgawe fokus ons op Afdeling Huisbewoners of Woonhuisinhoud, wat weereens beperk word tot alle items van 'n huishoudelike aard.
 
Lesers moet daarop let dat ook hierdie afdeling (net soos Huiseienaars) onderhewig is aan awery of onderversekering en moet dus teen vervangingswaarde verseker word.
 

HUISBEWONERS

Vanweë die omvang van die dekking en uitbreidings onder hierdie afdeling, sal ons dit in meer as een uitgawe moet behandel.
 
Dit is egter belangrik om eerstens te kyk na die woordomskrywing soos in die polisvoorwaardes vervat om te sien wat gedefinieer word as Woonhuisinhoud:
 
Alle inhoud van 'n huishoudelike aard, terwyl gehou word in die versekerde se private woning en huishoudelike buitegeboue op die vermelde perseel in die polis (dit sluit alles in wat sou uitval as die huis onderstebo gekeer word!). Hieronder ressorteer onder andere klerasie, juwele, kruideniersware asook die tuingereedskap in die motorhuis/buitekamer.
 
Persoonlike besittings van besoekers van die versekerde of medeversekerde terwyl in versekerde se private woning met die voorwaarde dat:
 
Diesulke besittings nie andersins verseker is nie (met ander woorde sou die besoeker sy eie huisbewonersversekering hê, moet daarteen geëis word).
 
Die aanspreeklikheid van die versekeraar is beperk, byvoorbeeld  R2 000.00 of 2% van die versekerde bedrag (Santam Landboupolis)
 
Persoonlike besittings van enige bediende in die voltydse diens van die versekerde terwyl hierdie besittings in die gebou soos gespesifiseer onder Afdeling Huisbewoners gehou word, onderhewig daaraan dat:
 
Verlies of skade as gevolg van diefstal uitgesluit is, behalwe as dit gepaard gaan met inbraak op 'n wesenlike, sigbare en gewelddadige wyse .
 
Die aanspreeklikheid van die Versekeraar is weereens gewoonlik beperk.
In die polis word ook dikwels melding daarvan gemaak dat aanspreeklikheid uitgebrei word om medeversekerdes in te sluit.  Medeversekerdes sluit in die gade/eggenoot van die versekerde asook enige ander familielid van hom/haar en sy gade wat normaalweg by hulle mag inwoon.
 
Waar die polis verwys na die versekerde se private woning, beteken dit die gebou van die versekerde se private woonhuis waarvan die konstruksie, bv. mure, van steen en dak van sink is; en ligging, bv. die plaasnaam en distrik,  in die polisbylae gemeld word.
 
Voorgemelde faktore word in berekening gebring by die premie aangesien ‘n woonhuis met ‘n houtkonstruksie ‘n baie hoë brandrisiko het terwyl ‘n woonhuis naby ‘n informele nedersetting weer ‘n hoë diefstal-/inbraakrisiko tot gevolg het.
 
Inhoud word verder gedefinieer as Huishoudelike Goedere en Persoonlike Besittings van allerlei aard wat die eiendom van die versekerde/medeversekerde is of waarvoor hulle verantwoordelik is, asook vaste uitrusting en toebehore (bv. TV- skottels) wat aan hul behoort. Vaste uitrusting en toebehore wat aan die eienaar behoort, soos in geval van ‘n huurwoning, word egter uitgesluit.
 
Let daarop dat die klem gelê word op items van 'n huishoudelike aard en sluit dit dus nie daardie “PTO-shaft” van die grondboonplukker wat in die motorhuis lê in nie!
 
Die geboue wat kwalifiseer vir dekking in terme hierdie afdeling is dieselfde soos bespreek in Deel 8 - Huiseienaars, nl. versekerde se private woning en huishoudelike buitegeboue en sluit nie die plaasstoor waarin trekkers, voer, ensovoorts gestoor word, in nie.
 

WAARTEEN IS EK EGTER VERSEKER?

Dieselfde dekking teen versekerde gevare word verskaf soos bespreek in Slaggate in Korttermynversekering - Deel 8 : Desember 2015/Januarie 2016, nl. brand, weerlig, spesiale gevare (storm, wind, water), diefstal, ensovoorts.
 
Dit is egter belangrik om op die volgende beperkings met betrekking tot diefstal of enige poging daartoe, te let:
 
Diefstal (of enige poging daartoe) is uitgesluit indien die versekerde geboue uitgeleen, verhuur of onderverhuur is, tensy dit gepaard gaan met in- of uitbreek uit die geboue deur wesenlike, sigbare en gewelddadige middele.
 
Kortliks beteken dit dat as die deur oopstaan soos in voorgemelde situasies, en iemand loop in, vat enige items (bv. handsak, kamera, ens.) en loop uit, is so ‘n voorval nie gedek in terme die polis nie.
 
Dit is dus belangrik om kennis te neem dat diefstaldekking ten opsigte van die inhoud van die versekerde se vakansiehuise wat uitverhuur word, beperk is tot diefstal volgende op sigbare, wesenlike en gewelddadige middele. Sou ‘n huurder dus met daardie mooi Pierneef skildery verdwyn, is dit nie gedek nie.
 
Diefstal (of enige poging daartoe) vanuit enige huishoudelike buitegebou is beperk tot skade of verlies volgende op wesenlike, sigbare en gewelddadige in- of uitbreek uit sodanige geboue.
 
Die “wegraak” van die elektriese boor of hoekslyper uit die motorhuis terwyl dit oop staan, is dus ook nie gedek nie. 
 
Soos by Afdeling Huiseienaars, is daar ook Uitbreidings tot voordeel van die versekerde wat gratis by die polis ingesluit is.
 

UITBREIDINGS

Verlies van of skade aan die inhoud van ys- en vrieskaste.
 
  • Toevallige bederwing van die inhoud van ys- en vrieskaste binne die versekerde geboue weens temperatuurveranderinge, bv. wanneer die bediende per ongeluk die item se krag ontkoppel as sy wil stofsuig en dit dan nie weer aansit nie.
  • Bederwing weens die doelbewuste afsny van die krag deur bv. Eskom is nie ingesluit nie. 
  • Skade aan die ys- of vrieskas self (weens moontlike kragfluktuasie) is nie ingesluit nie.
 

VERLIES VAN GELD

‘n Beperkte dekking van R2 500.00 (twee duisend vyfhonderd rand) is van toepassing vir verlies of skade aan geld van die versekerde/medeversekerde veroorsaak deur ‘n versekerde gevaar terwyl dit binne die versekerde se private woning, soos gespesifiseer in die bylae, is.
 
Diefstal van die geld moet egter weereens gepaard gaan met in- of uitbreek deur wesenlike, sigbare en gewelddadige middele.
 
Bedrae hoër as R2 500.00, asook geld vir besigheidsgebruik (boerdery), moet verseker word onder Afdeling Geld. wat ons later sal behandel.
 

TOEVALLIGE BREKASIE VAN SPIEëLS EN SEKERE GLAS

Die toevallige brekasie van glas van spieëls, glasblaaie van meubels en vaste glas wat deel uitmaak van enige stoof of oond (bv. ‘n glasbladstoof waarop ‘n kastrol val en die blad breek).
 
 

MEDIESE UITGAWES

Mediese uitgawes, behalwe waar ‘n mediese fonds/ander versekering beskikbaar is, is verseker tot R10 000,00 vir toevallige liggaamlike besering.
Hierdie dekking is egter beperk tot beserings opgedoen deur
  • enige persoon (uitgesluit die versekerde/medeversekerde of iemand in hul diens) direk veroorsaak deur versekerde se huisdier (hond/kat/ensovoorts) wat op die perseel gehou word;
  • enige gas of besoeker wat direk veroorsaak is weens ‘n defek in die geboue of perseel
 

OPSOMMING

 
Dit is dus duidelik uit voorgaande bespreking dat die versekeringsdekking in terme van Afdeling Huisbewoners heelwat meer om die lyf het as blote weerlig- of diefstal skadeloosstelling.  Ten einde al die voordele daarvan te benut het elke versekerde die plig om hom-/haarself te vergewis van wat in die polis staan.
 
Benut ook jou Versekeringsadviseur om al die voordele van jou korttermynpolis vir jou te verduidelik
 
In die volgende uitgawe fokus ons verder op die uitbreidings wat gratis ingesluit word in hierdie afdeling van die polis asook uitbreidings wat teen ‘n addisionele premie by gekoop kan word.
 
Vir die doeleindes van hierdie artikel is die polisvoorwaardes van die Santam Landboupolis gebruik en mag die dekking, perke en voorwaardes verskil van versekeraar tot versekeraar.
 
Navrae kan gerig word aan die outeur by 018-6331213 of willie.louw@univisionbs.co.za of u naaste Certisure Versekeringsadviseur.