Sonneblomtyd - Voëljagtyd




Natuurlik wil die jagters sorg dat die sonneblomme die boer se oes bly deur vroegoggend lekker tussen die duiwe in te vaar met die haelgeweer.  Maar met elke plesier kom daar tog 'n verantwoordelikheid. Die verantwoordelikheid is om seker te maak dat ons te alle tye binne die wet bly. En wat sê die wet mag ons doen en wat nie

Vir die spesifieke artikel kan ons bietjie meer kyk na Natuurbewaring se wette rondom die jag van duiwe en ander voëls. Alle vuurwapenlisensiehouers ken die Vuurwapenwet relatief goed. Maar wat van al die ander voorwaardes as dit kom by jag.  Kom ons kyk wat is die belangrikste regulasies wat ons moet onthou.

Volgens Natuurbewaring kry ons gewone wild asook diere wat skade veroorsaak. Diere wat skade veroorsaak is die maklike een om mee binne die wet te bly. Jy mag hulle die hele jaar deur skiet. Jy het slegs skriftelike toestemming of die teenwoordigheid van die plaaseienaar nodig om dié soort diere te mag skiet. Natuurlik kan ons nie met honde op iemand se grond gaan jag sonder sy skriftelike toestemming nie.

Al het die grondeienaar skriftelike toestemming gegee dat op sy plaas gejag mag word, mag jaghonde nie gebruik word om te jag nie. Honde mag slegs die voëls wat gejag is gaan haal of vir die skut ander voëls uitwys. Indien dié twee voorwaardes nie nagekom word nie, kan Natuurbewaring boetes oplê.

Gewone wild het 'n spesifieke seisoen waarbinne dit gejag mag word. Elke provinsie het sy eie ordonnansie. Die meeste provinsies se jagseisoen begin op 1 Mei en eindig op 31 Augustus. Binne die jagseisoen is daar ook ander voorwaardes waaraan voldoen moet word. Belangrik vir gewone wild is dat die jagter 'n jaglisensie in sy naam moet hê. Daar is ook ander voorwaardes, maar hulle verskil van provinsie tot provinsie.  Kontak dus jou naaste Natuurbewaringskantoor om die nuutste ordonnansie te kry en te  lees.

Wat die oes aanbetref, geld die volgende. Duiwe word gesien as diere wat skade veroorsaak. Daarom mag enige skut in die dag ('n halfuur voor sonop tot 'n halfuur na sononder) op enige plaas, met toestemming, duiwe jag. Gebruik honde net om die voëls wat jy geskiet het, te gaan haal.

Maar tussendeur die duiwe sien jy dalk 'n tarentaal of 'n fisant.  Wat doen jy nou? Wel, tarentale en die meeste ander jagvoëls is gewone wild volgens Natuurbewaring. Daarom mag ons hulle eers skiet nadat die jagseisoen oopgemaak het. Jy moet in besit wees van 'n jaglisensie, asook skriftelike toestemming om op die plaas te mag jag.  Daar mag ook net 'n sekere hoeveelheid voëls per dag gejag word.

Geniet dus die jag van duiwe tussen die sonneblomme. Los maar eers die tarentale uit tot en met Mei.  Onthou om te alle tye veilig en verantwoordelik op te tree in die jagveld.