Tonne ervaring by jou senior graanbemarkingsadviseur by Wesselsbron




Die ingeligte Scenario leser sal onthou dat ons reeds in 2015 op Danie gefokus het, toe hy nog by Hoopstad werksaam was. Hierdie nuwe titel is die 39-jarige beskore na hy al vir 21 jaar by die landboureus werksaam is.

Danie hanteer  ‘n wye gebied, vanaf Wesselsbron tot Hoopstad en Odendaalsrus. Waar hy in die verlede op homself en sy klante gefokus het, het hy nou drie personeellede tot sy beskikking om hom by te staan om uitstekende diens in hierdie groot mielieproduserende gebied te lewer.

By Wesselsbron is Graanverkrygingsassistent, Ronel van der Linde werksaam met Jurie Bezuidenhout, die graanbemarkingsadviseur, op Hoopstad en Herman de Jager wat dié pos by Odendaalsrus beklee - Herman het self in die vorige Scenario verskyn.

Nuwe uitdagings

Wat Danie veral geniet is die uitdagings wat die werk stel om personeel te bestuur. Sy doelwit is om hulle te help om hul eie doelwitte te bereik. Dan  ook om as voorbeeld te lei.

Sy meer as twee dekades se ondervinding maak hom die perfekte kandidaat vir sy nuwe rol. Benewens 21 jaar diens is hy al vanaf 2004 in graanbemarking, met drie jaar se ondervinding in Odendaalsrus en 11 jaar by Hoopstad. So, raad kom van ‘n ingeligte bron. Benewens die ervaring gee hy sy personeel ook wat hulle nodig het, naamlik om ingelig te bly.

Strategieë

Hy vertel dat die area wat hulle diens nogal baie uniek is en verskillende strategieë in elke area gebruik moet word – “Elke area se boere het ander sienings.” Daarom moet hulle ook anders gediens word. Wesselsbron en Hoopstad het groter produsente en is ‘n baie noue gemeenskap. Aan die ander kant is Odendaalsrus meer van ‘n mynbouwêreld wat weer sy eie uitdagings het. Hier is die produsente ook oor die algemeen kleiner as in Wesselsbron en Hoopstad.

Nuwes betree die mark

Danie sê dat mededingers toenemend die mark probeer betree. Iets wat elke jaar, sedert die vryemarkstelsel ingestel is, toeneem. Hy en sy personeel hou tred met nuwe tendense in die mark en verder soek hulle ook nuwe markte vir die produsente om mededingend te kan bly want - “Al hoe meer wil ‘n deel van die koek hê.”

‘n Volledige dienspakket vir klante

Met hulle rolle baie goed uitgelê, stel Danie nog doelwitte vir sy personeel om gereeld die voordele van Senwes uit te lig, soos dat graan met 'n voginhoud van tot en met 18% ontvang kan word. Verder help hulle ook klante om maksimale voordeel uit beloningstelsels soos AgriRewards te put. “Die meeste sukses word behaal as jy dit self aan die klante verduidelik en hulle bystaan met byvoorbeeld die registrasieproses.” Sodoende het dit nie net vir klante ‘n voordeel nie, maar vergroot jy ook jou markaandeel.

Buiten die Viljoenskroon-gebore man se kennis as graanverkryger bring hy ook sy silo-ervaring na die tafel wat hy as senior gradeerder by Wesselsbron Silo, hulpsilobestuurder by Schoonspruit Silo en silobestuurder by Wesselsbron opgedoen het.

So vir uitstekende diens, maak gerus ‘n draai by Danie of kontak hom sommer dadelik!