Uitslagpersentasie vir beeste




Die uitslagpersentasie word bereken deur die warm karkasmassa deur die leëpenslewendemassa as persentasie uit te druk. Die dier word by die abattoir, na vervoer, geweeg en word hierdie massa as die leëpensmassa beskou. Dus, die massa van die dier op die plaas is nie die korrekte syfer nie. Vir praktiese redes kan die diere oornag van kos weerhou word voor hulle na die abattoir vervoer word. Daar is ’n paar faktore wat beide die lewendemassa en die karkasmassa, en dus die uitslagpersentasie, beïnvloed. 

LEWENDEMASSAVERLIES TYDENS VERVOER 
Sodra beeste op die plaas vir vervoer na die abattoir gelaai word, sal lewendemassa deur mis- en urine-uitskeiding verloor word. Gedurende die eerste 12 tot 16 ure sonder voer en water, word lewendemassa vinnig verloor waarna die verliestempo geleidelik afneem. Hierdie massaverlies sal nie die uitslagmassa beïnvloed nie, behalwe as die diere vir tussen 48 en 72 uur sonder voer sou wees. Bestuurspraktyke soos minimum geraas, effektiewe sortering en laai van diere, minimum vervoertyd, laai van trokke of voorgeskrewe massa en aantal diere en goed beplande aankomstyd by die abattoir sal die tydsduur wat diere sonder voer sal wees en spanning by diere, tot die minimum beperk. 

Die tipe karkasmassa kan op ’n koue of warm basis gemeet word. Die koue massa is tussen 2% en 3% minder as die warm massa, wat ’n betekenisvolle verskil in karkasopbrengs kan beteken. ’n Karkas met nier- en kanaalvet ingesluit, kan gemiddeld 3% meer weeg, wat tot ’n 1,5% hoër uitslagpersentasie aanleiding kan gee. Kneusings op die karkas wat afgesny moet word, sal ook tot ’n laer uitslagpersentasie aanleiding gee. 

SEISOENALE EFFEK EN WEERSOMSTANDIGHEDE 
Lewendemassaverlies is vinniger tydens die warm somermaande en kan die uitslagpersentasie deur die jaar as gevolg van die seioenale effek, tussen 1.5% en 3% verskil. Die hoogste uitslagpersentasie word gedurende die warm somermaande ondervind. Dit is die periode waartydens voeromstandighede droog is en diere gewoonlik vir langer periodes gevoer is en wanneer die haarkleed van die diere die kortste is. Uitslagpersentasie begin tydens die herfs afneem wanneer die haarkleed verdig en meer massa dra. Enige weersomstandighede soos nat reënweer, sal die uitslagpersentasie verlaag, veral as die haarkleed dik is. In Suid-Afrika waar meestal Bos Indicus kruisings en aangepaste diere by warm weer geteel word, het hierdie aspek nie so ’n groot invloed nie. 

GESLAG 
Verse met dieselfde vetheidsgraad as osse, het gewoonlik tussen 1,5% en 2,0% laer uitslagpersentasie. Verse is geneig om meer vet rondom die uier, rondom die interne organe en onderhuids as osse te dra. Die verskil in uitslagpersentasie verminder tussen verse en osse wanneer die verse vetter as die osse word. Aangesien verse vinniger fisiologiese volwassenheid as osse bereik, word hulle tussen 50 kg en 75 kg ligter bemark en het dus swakker spiermassa, wat ook tot die laer uitslagpersentasie bydra. Daar is altyd ’n risiko dat verse met slag dragtig is. Dragtige verse het laer uitslagpersentasies as oop verse. 

Die daling in uitslagpersentasie in hierdie geval hou verband met die grootte van die fetus, die uterus en die embriotiese weefsel en vloeistof. ’n Hoë persentasie uitskotkoeie is gewoonlik dragtig. Soortgelyk verlaag dit die uitslagpersentasie en die effek is die grootste by koeie met ’n relatief lae lewendemassa. Met dieselfde lewendemassa het osse meer hart- en long asook abdominale en niervet as bulle. Dit kan verwag word dat osse ’n laer uitslagpersentasie as bulle met soortgelyke eksterne vetheidsgraad sal toon aangesien die vetverspreiding tussen osse en bulle van mekaar verskil. 

VOEDING 
Beeste wat op droë en veselryke voer gevoer is, verloor dermvul moeiliker as diere wat op graanrantsoen en/of groenweiding gevoer is. Die hoeveelheid dermvul is ook laer in laasgenoemde geval. Dit verklaar die tipiese 2% tot 4% hoër uitslagpersentasie van voerkraalbeeste. Die beter groei en dus spiermassa asook vetheidsgraad van voerkraalbeeste dra ook hiertoe by. Waar diere se dermvul volledig geledig is op beide hierdie rantsoene, is die verskil in uitslagpersentasie slegs ongeveer 1%. Hier speel die tyd van voeding voor diere vir slag geweeg word, dus ’n betekenisvolle rol. 

Die aantal dae wat diere in die voerkraal op hoë graanrantsoene spandeer, beïnvloed ook die uitslagpersentasie. Die ondervinding is dat diere wat ’n minimum van 60 dae in die voerkraal gevoer word, ten minste 2% laer uitslagpersentasie het as diere wat vir 90 dae gevoer is. Uitskotkoeie direk na speen het tipies ’n uitslagpersentasie van tussen 48% en 51%. Dieselfde koeie na 60 dae op ’n hoë graanrantsoen, slag tussen 53% en 55% uit. Hierdie verskil word aan die vetheidsgraad van die gevoerde koeie toegeskryf. 

BESPIERING 
Diere met swaarder en beter bespiering toon ’n beter uitslagpersentasie as diere wat swak bespiering het en waar alle ander faktore dieselfde is. Binne ’n ras kan vir beeste wat een telling beter bespiering op ’n skaal van 1 tot 5 toon, ’n beter uitslagpersentasie van tussen 1% tot 1.5% verwag word.

RAS 
Bos indicus tipe diere, wat ’n ligter spysverteringsinhoud het, slag beter as Britse rasse uit. Daar kan tussen 1% en 2% beter uitslagpersentasie vir beeste wat 50% of meer Bos Indicus gene bevat, verwag word. Europese rasse slag ook tussen 1% en 3% beter as Britse rasse uit. Hierdie verskynsel kan aan die beter bespiering van Eurpese rasse toegskryf word. Melkrasse slag ongeveer 1% laer as Britse vleisrasse uit. As die vet van melkrasse afgesny word, kan die uitslagpersentasie gemiddeld dieselfde as ander rasse wees. 

Melkrasse wat geneig is om nie goeie bespiering te vorm nie, slag gemiddeld 3% laer as vleisbeesrasse uit. Waar die verskille in uitslagpersentasie soms aan die fisiologiese ouderdom en dus vetheidsgraad toegeskryf kan word, is daar ook ander faktore soos die massa van die huid, kop voete en spysverteringstelsel wat die verskille veroorsaak. Rasse soos die Hereford en Simentaller, wat geneig is om ’n swaarder huid, kop, voete en spysverteringstels te vorm, sal ’n laer uitslagpersentasie toon aangesien hierdie liggaamdele nie deel van die karkas is nie. Hierteenoor het die Angus en Limousine rasse ’n hoër uitslagpersentasie as gevolg van hierdie rasse se lae massa van ooreenstemmende liggaamsdele.

LEWENDEMASSA EN VETHEIDSGRAAD 
Vetter diere het gewoonlik ’n beter uitslagpersentasie as maer diere, eenvoudig omdat die meeste vet deel van die karkas is. Aangesien die groei van spierweefsel ’n hoër prioriteit as vetweefsel in die liggaam het, het vetter diere ook gewoonlik beter bespiering wat tot die beter uitslagpersentasie bydra. Die uitslagpersentasie verhoog soos die lewende massa van voerkraalbeeste verhoog. Sodra die voerkraalbees die afrondingmassa en -kondisie bereik, word meer vet as enige ander weefseltipe soos spier, been, huid, spysvertering en ander organe aangesit. 

Liggaamsvet word as kanaalvet, tussenspiersevet of marmering en as onderhuidse vet aangesit. Hierdie vet is deel van die karkas en verhoog die uitslagpersentasie. Om die korrekte en tydige bestuursbesluite te neem om die maksimum waarde vir die karkas van ’n bees te realiser, moet al die faktore wat die uitslagpersentasie van die bees beïnvloed, geken en in aanmerking geneem word.