Van die Koppiesdistrik vir die kontrei - Christelle Jansen van Rensburg




Hoewel Christelle nou ʼn jaar en vier maande as Senwes graanbemarkingsadviseur in die gebied werksaam is, bly sy eintlik haar hele lewe in die distrik, waar sy al van kleins af geleer plant en stroop het. Die blondekop is ook hier gebore en het haar laerskoolloopbaan by Sarel Cilliers voltooi, voor sy Hoërskool Heilbron toe is waar sy in 2009 gematrikuleer het. Sy ken dus hierdie produsente in wese en hulle vir haar. Al verskil nou is dat sy hulle net in haar posisie as Senwes graanbemarkingsadviseur diens.


Diens ‘n wye area

Buiten Koppies hanteer sy ook die gebiede by Rooiwal, Heuningspruit en Attie. Sy is grotendeels in Koppies gestasioneer en werk so een of twee dae van die week in Kroonstad.

Wat Christelle verder uniek maak, is dat sy regtig baie met haar produsente kommunikeer. Vanweë haar lang lys produsente, het sy selfs ‘n Koppies Graanbemarking Whatsappgroep gestig, waarop sy maklik en deurentyd inligting aan hulle kommunikeer - eerstens marktendense, die openingsprys en ook die sluitingsprys. Om dit aan te vul, kommunikeer sy ook ander belangrike inligting aan die meer as 256 klante op die groep.

Dan hanteer sy elkeen op individuele basis, “want elkeen se inligting is uit die aard van die saak privaat en word ook as sulks konfidensieel hanteer.” As relatiewe nuweling steun sy veral op senior graanbemarkingsadviseur by Senwes, Ben Brink, asook makelaar by Senwes hoofkantoor, Marcel Lombard. “Hulle het my baie geleer en gehelp en ek kry baie inligting van hulle af om my produsente optimaal te kan bystaan.”


Haar produsente is haar lewe

“Ek is baie lief vir my boere. Ek is verskriklik erg oor my boere. Daarom is dit ongelooflik belangrik vir my om die beste prys vir hulle te kry.” Sy ken die produsente van veral Koppies en Rooiwal, en tussen haarself en Ben Brink ken hulle almal van Heuningspruit en Attie ook.

“Ek verstaan hulle stories, want my pa is ook ʼn boer,” sê sy. Pa Gerhardus Strydom boer sowat 18 km op Koppies Dam pad uit, waar Christelle ook grootgeword het. Om dit af te rond het sy ook op 22 April vanjaar met Fanie Jansen van Rensburg getrou, wat weer by Wonderheuwel tussen Sasolburg en Koppies boer.

Die vrou spog ook met ‘n B.Com Menslike Hulpbronbestuursgraad, wat sy in 2013 in Potchefstroom behaal het en ‘n jaar later het sy haar honneursgraad in Arbeidsverhoudinge behaal.

En alhoewel sy twee jaar in arbeidsverhoudinge gewerk het en al die wette en beleide ken, sal sy haar werk vir niks verruil nie.

“Ek ken my klante se situasies en hulle stories. Dit is hoekom elkeen ʼn spesiale plek in my hart het.” Na al die kommunikasie en verhandelings in die oggendure, lees sy vanaf 12:00 graanverkope in en verrig ‘n paar administratiewe take.

Hier hanteer sy elkeen soos hy hanteer wil word. Baie kom besoek haar by die takke en in die middae probeer sy ‘n produsent op sy plaas besoek. Dan besoek sy ook die boereverenigings by Greenlands asook Renosterkop by Attie en Heuningspruit.

Een kardinale punt is dat sy alles in haar vermoë vir die klante doen. “Die oomblik as die prys opgaan dan laat weet ek hulle. Daarna is dit die produsent se verantwoordelikheid om te besluit wanneer om te verkoop.”