Voeding en versorging van ramlammers




Dis die tydperk binne die baarmoeder wanneer fetusgroei, primêre wolfollikelontwikkeling asook die ooi se uierweefselontwikkeling plaasvind. Die fetusgroei op hierdie kritiese stadium sal uiteindelik die liggaamsgewig bepaal; die primêre wolfollikelontwikkeling sal die wolproduksie bepaal en die uierweefselontwikkeling is nodig om te verseker dat die ooi voldoende kolostrum en melkproduksie lewer om die ram se volle potensiaal te voed na geboorte.
Die sekondêre wolfollikelontwikkeling vind vanaf geboorte tot op drie weke plaas.

VOEDING EN FETUSONTWIKKELING 

Die stadium ses weke voor lamtyd is wanneer die fetus se uiteindelike groeipotensiaal die grootste knou toegedien kan word deur verkeerde voeding. Afgesien van die potensiaal wat met ondervoeding verlore gaan, kan lae geboortemassa (2 tot 3 kg) vrektes tot gevolg hê. 
’n Dragtige ooi se voedingsbehoefte is 3,5% van haar liggaamsmassa. Goed gebalanseerde voeding van die ooi is nodig vir die produksie van goeie kolostrum, wat die immuniteit van die ram oor sy leeftyd gaan bepaal. Handhaaf ’n gesonde verhouding van 68% energie teenoor 16% proteïene met haar voeding.

RAMLAM SE VOEDING NA GEBOORTE 

Ten einde die ramlam optimaal te voed, het die lakterende ooi 4,5% van haar liggaamsmassa as daaglikse voeding nodig. Kruipvoeding moet reeds vanaf 10 dae na geboorte opgestel word en is noodsaaklik aangesien dit die ram se vreetpatroon oor sy leeftyd gaan bepaal. Die ram se vermoë om sy voeding aan te pas, is noodsaaklik aangesien ramme dikwels van eienaar en gevolglik voedingspatrone verwissel. Verandering in voeding kan onvrugbaarheid veroorsaak omdat dit ongeveer 21 dae neem vir die mikro-organismes om aan te pas by die volgende rantsoen. Elke rammetjie benodig sowat25 kg kruipvoeding totdat hy op 100 dae gespeen word.

Goeie voedingsbestuur vereis dat die boer die ramlam se vordering monitor. Neem ’n besluit wat jou ramme se gewig op 2-tandverkoopstadium moet wees, stel ’n tabel op en monitor deur maandeliks te weeg. As die ramlam byvoorbeeld 40 kg met speen weeg en sy doelwitgewig is 88 kg, moet sy gewig met 48 kg oor 12 maande (365 dae) toeneem. Monitor dus of hy met ongeveer 4 kg per maand of 110 gram groei soos vereis word.

GOEIE VERSORGING VAN DIE RAMLAM 

Die volgende riglyne is waardevol om goeie rambestuur te verseker vanaf speen tot veiling. 
Op +42 dae, neem mismonsters en doseer indien nodig. Hierdie is ook ’n goeie tyd om spoorelement- en Vitamien A-aanvulling te doen om die slymvliese te versterk. 
Op 80 dae moet teen bloednier en pasteurella geënt word om vrektes na speen te beperk. 
Speen op 100 dae en weeg die ram. Prestasiemeting begin reeds hier en is ook nodig vir BLUP-seleksie later. Speenseleksie word gedoen en 15% tot 20% van die swakste rampresteerders word uitgegooi. Dis belangrik om aan te teken watter nageslag nie groei nie sodat teen ouers gediskrimineer kan word. Verkoop die swak presteerders. Die geboorteregister en speenrekord moet aan SA Stamboom gestuur word.

HANTERING VAN DIE RAMME MET VEILING 

Veilingramme sal ongeveer 6 tot 7 maande wol dra met die veilingdag. Neem die laaste klein wolmonster (EST) wat net getoets word vir Micron, Sd, CV en Comfort % en by die tweede toets op die katalogus aangedui word. Finale keuring word deur rasinspekteurs by die veiling gedoen. Ramme moet vir vrugbaarheid getoets word en ‘n sertifikaat moet aan die koper beskikbaar gestel word. Ramme word aan baie stres blootgestel by veilings. Daarom is dit nodig dat ramme na die veiling goed water drink en vreet voordat gelaai word. Die hantering op die veiling, vervoer asook voedingaanpassing kan tot tydelike onvrugbaarheid lei. Dit is fataal om ’n ram net na veiling te skeer omdat dit redelik algemeen tot totale onvrugbaarheid aanleiding gee. Hou die voeding konstant (verkoper kan vir jou ’n sak pille saamgee) en gee die ramme tyd om aan te pas en te rus ten einde onvrugbaarheid as gevolg van aanpassing te voorkom. Om die ram met aanpassing te help, kan Protexin Solube, Bioboost of Bio-min gedoseer word. Onthou ook om die ram weer teen bloednier en pasteurella te ent. Ramme maak ’n groot bydrae tot die kudde se ekonomiese prestasie en daarom moet rambestuur reeds ses weke voor geboorte begin en volgehou word.