Weet wat behels jou 2016 vuurwapenwet




Volgens James Cameron, ‘n kenner van die vuurwapenwet is daar niks om oor bekommerd te wees nie, “daar is nie veel nuut rakende die eindgebruilker aan die 2016 vuurwapenwet nie en veranderinge is geïmplementeer met die doel om administratiewe probleme uit te stryk”. Hy verduidelik ook verder dat die SAPD aanvoer dat hulle op hierdie wyse korrupsie hok slaan. Die 2016 vuurwapen mandaat stel dit duidelik dat daar in die toekoms streng volgens die stipulasies van afdeling 24 van die FCA gehou sal word. Dit hou die volgende in:
 
 
  • Ingevolge Artikel 24 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000), moet vuurwapenlisensies ten minste 90 dae voor die vervaldatum van sodanige lisensie, hernu word. 
  • Indien die hernuwingsaansoek vir ‘n vuurwapen lisensie nie ten minste 90 dae voor die vervaldatum, by die Aangewese Vuurwapen Beampte ingehandig word nie, word sodanige vuurwapen hanteer volgens Artikel 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000). 
  • Artikel 28 van hierdie Wet bepaal dat lisensies van vuurwapens wat nie ten minste 90 dae voor die vervaldatum van die lisensie hernu word nie, outomaties beëindig sal word. 
  • Hierdie Artikel bepaal verder dat die betrokke vuurwapen-eienaar kennis moet ontvang dat hy/sy binne 30 dae, redes moet aanvoer waarom sodanige lisensie nie beëindig moet word nie. Indien die redes van die hand gewys word, moet die betrokke vuurwapen-eienaar 60 dae gegun word om ontslae te raak van vuurwapen, op ‘n voorgeskrewe wyse. Indien dit nie gebeur nie, sal die vuurwapen verbeurd verklaar word. 
  • Hierdie riglyne geld slegs ten opsigte van vuurwapenlisensies uitgereik onder die nuwe vuurwapenwet, naamlik Wet 60 van 2000. Hierdie prosedures geld, met ander woorde, slegs vir diegene wat oor die sogenaamde “wit” lisensies beskik.
 
James waarsku wapen-eienaars dat dit baie belangrik is om in die nuwe wysigings van die wet te voldoen. “Jy is soos ‘n volstruis wat jou kop in die sand steek. Iewers langs die pad gaan jou nommer op die rekenaarsisteem getrek word waar hulle kan sien dat jou vuurwapen lisensies verval het. Daar is geen manier hoe dit ontduik kan word nie!”