Wildsboudpotjie in 'n japtrap




GEMARINEERDE WILDSBOUD 
1 wildsboud (springbok, rooibok, ens) 
8 knoffelhuisies, gehalveer 
8 repe streepspekvleis, in repe gesny of 100g spek in repe gesny 
4 eetlepels kookolie 
3 medium uie, gekap 
2 teelepels sout varsgemaalde swartpeper na smaak 
1 koppie beesvleisaftreksel 

MARINADE 
4 eetlepels bruinasyn 
2 eetlepels kookolie 
2 eetlepels bruinsuiker 
2 lourierblare 
10 heel swartpeperkorrels 
3 heel naeltjies 
1 kaneelstokkie 
3 koppies rooiwyn (droog)

METODE 
1. Maak die marinade deur die asyn tot kookpunt te verhit en dan die olie, suiker, lourierblare, peperkorrels, naeltjies en kaneel by te voeg. Laat dit ’n paar minute kook. Verwyder van hitte en laat afkoel. Roer die rooiwyn in. 

2. Gebruik ’n skerp mes en maak insnydings sowat 40 mm uitmekaar in die wildsvleis. Druk in elkeen, saam met die draad van die vleis, ’n halwe knoffelhuisie en ’n reep spekvleis of spek. 

3. Sit die vleis in ’n bak en giet die marinade oor. Laat 24 uur lank marineer (of langer) en draai die vleis gereeld om. Haal die vleis uit die marinade en druk droog. 

4. Verhit die olie in ’n potjie en braai die vleis aan alle kante bruin. Voeg die uie by en soteer tot dit deurskynend is. Geur die vleis met sout en peper. Voeg verhitte beesvleisaftreksel en 250ml van die marinade by en verhit tot kookpunt. 

5. Verminder die hitte deur ’n paar kole weg te krap of gasvlak laer te stel. Sit die pot se deksel op en prut stadig vir 3 tot 4 uur of tot die vleis sag is.