Beroking van graan




Wat behels die beroking van graan?

Kom ons begin met ʼn definisie. Beroking is die veilige en effektiewe bestryding van graanopbergingsinsekte in opgebergte graan op so 'n wyse dat die graan veilig en vry van lewendige insekte is vir die eindverbruiker.


Hoe werk dit?

Beroking behels die toediening van formulasies wat fosfien vrystel en die lugruimtes om die graankorrel met ‘n toksiese gas vul. Dit is belangrik om te weet dat jy nie die graan berook nie, maar wel die ruimtes om die graan. As gevolg hiervan is daar geen residu van fosfien op die graan nie. Met bespuiting van graan word die graan fisies bespuit met 'n stof  wat na 21 dae afbreek tot ‘n aanvaarbare residuvlak wat veilig is vir die eindverbruiker.


Geïntegreerde pesbestuur

Dit is ‘n program waarvolgens jy alles in jou vermoë doen om die insekte te elimineer en beroking is die laaste uitweg. In die bedryf praat ons van skuurhigiëne. Dit gaan gepaard met skoonmaakaksies in en om silokomplekse, voorbereiding van opbergingstrukture/silobuise, afseel van strukture en gereelde monitering. “Dit help nie jy dien net gif toe en maak nie skoon nie. Dit is soos ʼn groot kombuis. Jy skep nie kos in ‘n vuil bord nie. Die bord moet tog skoon wees.” Dieselfde geld vir skuurhigiëne.

Die gif breek af in die buis na ongeveer 20 dae en dan is jou graan weer blootgestel aan insekte. Skuurhigiëne is die belangrikste beginpunt in die eliminering van herinfestasies.


Middels

Fosfien, metielbromied en spuitmiddels is beskikbaar vir insekbestryding. Op die stadium is dit fosfien wat gebruik word. Fosfien reageer op die atmosfeer (vog, hitte en suurstof) om die gas vry te stel. Spuitmiddels werk goed, maar as gevolg van die residuvlakke wil nie alle kopers bespuite graan aankoop nie. Metielbromied is baie duur en is besig om uit te faseer omdat dit ‘n ‘ozone depleting substance’ is.


Tipes beroking

Losmaatberoking – Soos in silobuise, silosakke en opbergingsdamme waar graan in massas opgeberg word. Daarvoor gebruik jy ʼn tablet, pilvorm of sirkulasieberoking. Tablet en pille word binne graan ingewerk en dan stel dit gas vry.

Sirkulasie – ʼn Formulasie word in die buis toegedien en die lug (gas) sirkuleer in die buis, wat die insekte dood.

Sakberoking – Dit is as produkte in sakke berook moet word. Dit is 'n arbeidsintensiewe manier van beroking.  Veiligheid is altyd belangrik maar hier selfs meer omdat daar met baie mense gewerk word.


Vir hoe lank word berook?

Jy het ʼn minimum van 120 uur blootstelling nodig. Dit is waarom, ongeag die metode wat gebruik word, die struktuur altyd gasdig moet wees. Die KT- waarde moet bereik word. Dit is die blootstelling gemeet aan die hoeveelheid gaskonsentrasie teenoor tyd. Hoe laer die konsentrasie hoe langer moet die blootstellingstyd wees.


Maak alle stadia van ‘n insek dood

Deur beroking moet alle stadia in die lewensiklus van die insek doodgemaak word. Insekte, larwes, papies en eiers. Insekte en larwes is die aktiefste - hulle asem die gif eerste in en vrek altyd eerste - binne 24 uur! Papies en eiers vat egter langer om die gif te absorbeer. Papies en eiers word in sekere gevalle blootgestel, maar nie vir lank genoeg om tevrek nie. So bou die volgende generasies ʼn tipe van ʼn weerstand op teen die gif. “Dit maak dit verseker moeilik vir ons en ons ervaar dit nou baie as gevolg van oneffektiewe berokingspraktyke.”


Inspeksies

Gereelde inspeksies word by die silo’s gedoen. Daar word gekyk na doeltreffende skuurhigiëne, regte prosedures by beroking en voorbereiding. Wetgewing word ook te alle tye nagekom ten opsigte van veiligheid en geregistreerde produkte teen die regte dosisse.


Toerusting

‘n Volgesigmasker met 'n filterkannetjie moet gedra word wanneer berook word. Elke tipe gif het sy eie filterkannetjie, anorganiese gasse en organiese dampe. Wet 85 van 1993, Beroepsveiligheid en Gesondheid, reguleer ‘n veilige werksomgewing. Gereelde monitering moet plaasvind om blootstelling en akute vergiftiging te verhoed. Alle silobuise is beperkte ruimte-omgewings en dit moet  werkersvriendelik wees.

As daar met gif gewerk word is gesondheidsrisiko's uiters belangrik. Goeie opleiding is van die uiterste belang. Etikette moet behoorlik gelees en verstaan word. Die tipes gifstowwe en die effek daarvan op die toediener moet verstaan word.  Sonder kennis weet jy nie hoe om enige produk veilig en effektief  te gebruik nie.


Insekte

Daar is nagenoeg sowat 2 miljoen spesies. Die vernaamste opbergingsinsektes in die Senwes gebied is kalanders, platgraan, rooikewers, graanmotte en stofluise, elkeen met sy subspesies.

In die winter, onder 15°C, is die insekte minder aktief en soms plant insekte nie  voort nie. By warm temperature en vogtige toestande floreer insekte egter.


Die impak van insekte

Met elke oneffektiewe beroking het die volgende generasie insekte reeds ‘n mate van weerstand opgebou. Lewenssiklusse is tussen 20 en 40 dae. Een insek wat oorleef kan tot 300 eiers lê. Die larwe vreet net om ‘n sterk insek te genereer en die insek se hoofdoel is voortplanting.


Wat teiken die insekte?

Insekte val meestal die kiemgedeelte van die graan of saad aan. Juis die ding wat ontkiem en die meeste voedingswaarde bevat. Insekskade op graan affekteer dus die gradering van die graan.


Kwarantyn

Vroeër jare het die khaprakewer voorgekom, maar gelukkig nie meer vandag nie. Indien so ‘n kewer gevind sou word, word 'n hele perseel of stoor onder kwarantyn geplaas. Dit is een van die redes waarom daar wette is met betrekking tot die in- en uitvoer van graan.


Wanneer word berook?

Siftoetse of gehaltebeheer word weekliks op buise gedoen en sodra  insekbesmetting voorkom, word berook. In die somermaande is dié afdeling baie besig.


Watter probleme kom voor?

In die graanbedryf is daar soms onopgeleide persone wat teen verkeerde dosisse berook en verkeerde prosedures volg.  Sodoende word graan nie effektief berook nie en bou insekte weerstand op. Die graan land iewers by ‘n silo met uiters negatiewe gevolge. Die huidige warmer wintertemperature bring mee dat insekte regdeur die jaar teenwoordig is en al moeiliker raak om te bestry.


Raad vir boere

Kry ʼn kundige persoon, wat as ‘n graan beroker geregistreer is by die Departement van Landbou in terms van Wet 36 van 1947, vir die beroking van jou graan. Volg die aanwysings op die etiket: kennis moet geneem word van gesondheid, voorsorgmaatreëls, gebruiksaanwysings en simptome van vergiftiging.


Hoe groot area dek die manne by die Berokingsafdeling?

Daar is sowat 60 aktiewe bedryfspunte binne Senwes en tussen hulle moet alles altyd op standaard wees. Daar is by elke punt ‘n geregistreerde persoon met ‘n registrasienommer wat te alle tye verantwoordelik is. Daarbenewens  verleen Renier en sy manne bystand by enige bedryfspunt waarna hulle uitgeroep word.  Raad word gegee met betrekking tot dosisse, nuwe middels en nuwe praktyke, sowel as enige berokingsaangeleenthede.


Koste van beroking

Om een buis te berook, kos tussen R8 000 en R50 000, afhangend van die buisgrootte, tipe formulasie en metode wat gebruik word. Met meer as 600 silo’s kan dit  ‘n enorme bedrag aan die einde van die dag beloop.


Blootstellingstydperk

Na beroking is daar ‘n 14 dae blootstellingstydperk, waarna die graan eers bemark kan word. Dis belangrik om te weet, aangesien verantwoordelikheid vir die graan aanvaar word tot dit afgelaai word by die eindverbruiker.

'n Mens leer elke dag iets nuuts en jy moet altyd innoverend wees. Die belangrikste is dat die beroking suksesvol moet wees. Die berokingsbesluit word tussen die silobestuurder en die hoofberoker gemaak en in baie gevalle is dit goed wat jy in die praktyk optel wat jy nie in ʼn boek kan leer nie.


Die verantwoordelikheid van beroking begin agter

Wanneer berook word mag geen foute gemaak word nie. Wat die effek en gevolge aan die einde is? “Jy werk hier met mense, jy het net een kans.”

Berokers moet baie streng met betrekking tot voldoening aan wetgewing. Die Beroking is basies die bystandafdeling as gif benodig word en hulle hanteer ook die bestelling en voorsiening van produkte by die gifdepot in Klerksdorp.

By plaagbeheer produkte moet produkte gereeld afgewissel word en baie selektief gekies word.


Drie gifmaatskappye

Daar is drie gifmaatskappye in Suid Afrika wat geregistreerde produkte voorsien, naamlik National Fumigants, Degesch en Coopers.